‘n Groep haweloses wat oorkant die Parow-Noord Atletiekbaan informele strukture opgeslaan het, het plaaslike inwoners hier onsteld.
TygerBurger ontvang dikwels klagtes oor die spesifieke kwessie en het die informele nedersetting, wat uit kartonbokse, lap en komberse bestaan, besoek. Twee van die inwoners hier het laat blyk dat hulle geen ander heenkome het nie.
Clinton Constable (46) van Elsiesrivier en Bennet Petersen (60) van Oudtshoorn in die Klein-Karoo, woon al jare op die perseel langs Frans Conradie-rylaan, en oorkant die omheinde atletiekbaan. Vir albei is terugkeer huistoe nie ‘n opsie nie.
Operasies uitgevoer
Die Stad Kaapstad se Metro-polisie en wetstoepassingeenheid besoek die gebied weekliks om dit op te ruim, sê wyksraadslid Roger Cannon, en hulle word vergesel deur amptenare van die Stad se eenheid vir persone wat ontheem is, sowel as die departement van maatskaplike-ontwikkeling. “Hulle word hulp angebied, maar wyer die hulp.”
Cannon sê hulle sit met ‘n soortgelyke probleem verder op in McIntyreweg.
Constable en Petersen, wat nie hul fotos in die koerant gepubliseer wil hê nie, sê egter die hulp wat aangebied word om na ‘n skuiling te gaan, is “nie die moeite werd nie.”
“Ons moet 17:00 saans in wees, en 06:00 weer uit wees,” sê Petersen wat reeds 10 jaar op die perseel woon. By party skuilings moet hulle boonop betaal om te oornag, maar met die Sassa werkloosheidstoelae van R370 wat hulle ontvang, is dit nie maklik nie, meen Constable.
Metro-polisie en wetstoepassingbeamptes besoek die gebied elke Donderdag. “Ons het al hul roetine uitgewerk. Ons stoor ons goed wanneer hulle kom,” sê Constable, wat ook aan dié verslaggewer erken het dat hy dwelms gebruik. Hy sê egter dat hy dit “verantwoordelik” doen en niemand leed aandoen, of kwaad doen nie.
Ná die besoek keer hulle egter terug want volgens albei mans, is dit “al tuiste”. Wintermaande is moeilik, maar hulle “druk deur”. Soms vind hulle skuiling onder die brug, sê Petersen.
Hulle ontvang wel klagtes vanaf die atletiekbaan se kant, erken hulle, “maar ons gee nie vir hulle rede om te kla nie,” sê Constable, wat al agt jaar hier woon, en al 20 jaar al op straat is.
Constable sê hy het eers by die Parow-treinstasie skuiling gesoek, maar dat die misdaad daar hom hierheen gedwing het.

Raadslid bewus
Tydens ‘n persoonlike ontmoeting met TygerBurger het Cannon gesê hulle dra kennis van die kwessie, dat hulle dikwels klagtes ontvang, maar dat die Stad nie gemagtig is om persone te verskuif, of om hul persoonlike besittings te neem nie, maar net hulp kan aanbied.
“Die Stad kan nie persone verwyder sonder ‘n hofbevel nie.” Hy meen net die entiteit wat vir die eiendom verantwoordelik is mag aansoek doen om so ‘n uitsettingbevel by die hooggeregshof. “Maar dit is ‘n langdurige proses en kan nie oornag gebeur nie, aangesien daar eers vir die persone langtermyn akkommodasie gereël moet word.”
Hy sê baie keer is van die haweloses op straat voormalige gevangenes, of persone uit op parool, en is dit moeilik vir hulle om terug te keer van waar hulle kom, aangesien hulle vir hul lewens vrees.
Hy sê die deel waarop die informele strukture tans gerig is, is geleë op die departement stedelike mobiliteit (voorheen paaie en vervoer) se grond. Die deel tussen die perseel en die atletiekbaan word bestuur deur die departement van gemeenskapsdienste en gesondheid, terwyl die atletiekbaan deur die departement van parke en ontspanning bestuur word.
Cannon sê daar is twee maande gelede besoek afgelê aan verskeie plekke waar haweloses kamp opgeslaan het, insluitende McIntyreweg en oorkant die De Grendel-treinstasie in Barry Hertzog-pad. Hulle was vergesel deur JP Smith, burgemeersterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit.

Inwoners ongelukkig
Een leser het in ‘n e-pos genoem dat die persele ‘n openbare gesondheids- en veiligheidsrisiko inhou, sowel as omgewingsbekommernisse skep. Hy meen oop vure word daagliks gemaak, dat individue in die openbaar urineer en dat hulle hul wasgoed op tuisgemaakte wasgoedlyne ophang. “Hierdie omstandighede raak die omliggende gemeenskap negatief en dra by tot die verval van die gebied se algehele netheid en veiligheid,” sê Warren Caesar, die leser.
Caesar meen die huidige strategie wat deur Metro-polisie en wetstoepassingebeamptes benut word, is oneffektief.
“Ons het voorheen versoek dat wetstoepassingbeamptes daagliks patrollies uitvoer by twee brandpunte, met veelvuldige besoeke waar dit operasioneel moontlik is. Die oop vure brand gewoonlikk vroeg oggend en dan weer omstreeks 16:00. Hierdie is die tye wanneer wetstoepassingebemptes teenwoordig moet wees, en die relevante verordeninge aktief moet uitvoer.”
Cannon meen inwoners het ook ‘n verantwoordelikheid ten opsigte van haweloses. Hy sê inwoners moet sover moontlik probeer om hul vullisdromme op vullisverwyderingdae die oggend uit te sit, plaas van die vorige aand, en dat hulle sekere items wat haweloses dalk as waardevol mag ag en sal wil verkoop, liefs by die stortingsterrein onstlae van moet raak. Haweloses stap met trollies om goed te versamel, sê hy.
Hy sê hy is bekommerd omdat haweloses by die atletiekbaan infrastruktuur beskadig deur stene onder die brug, wat vir stabiliteit aangebring is, verwyder.
LEES OOK: City of Cape Town pushes R46 m into basic services in informal settlements





You must be logged in to post a comment.