Helene Hector (54) en haar gesin van Silwood Heights in Eersterivier het Saterdag 10 Oktober om eenuur die middag al hul besittings in ‘n brand verloor. Niemand was tuis toe die brand uitgebreek het nie en die gesin word tans by ander mense gehuisves.
12 gesinne
Claudia Phillips, die voorsitter van die Rampbestuur-WhatsApp-groep in Eersterivier, sê die groep is verlede jaar gestig nadat ongeveer 12 gesinne hul huise in brande in Eersterivier verloor het, en sy en die mede-stigters van die groep gaan nou die Hector-familie help.
Die stigterslede is Hector, Crispin Hendricks, Denise Weber en pastoor Christopher Julie.
LEES OOK: Ma moet toekyk hoe vlamme seun neem in huisbrand wat vier se lewe eis
Die huis is tot op die grond afgebrand en die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, want die brandverslag is nog nie afgehandel nie.
Volgens Phillips benodig hulle klere vir die ma, ‘n 21-jarige seun en 21-jarige dogter, ‘n sewejarige en ‘n driejarige dogter en ‘n dertienjarige seun. Die skoengrootte vir die dogters wissel van nommer drie tot ses en vir die seuns nommer twee en agt.
Klereskenkings
“Ons het reed klereskenkings uit die gemeenskap ontvang en wag nog op ander skenkings van die publiek, nadat die gesin se nood op die groep geplaas is. Die gesin het alles verloor en enigiets sal waardeer word. Enige skenkings kan by my huis by Oxalis-singel 12, Devon Park Village in Eersterivier afgelaai word en ons sal dit dan aan die gesin oorhandig.
“Ek het aansoek gedoen vir panele vir ‘n wendyhuis en wag op ‘n antwoord. Die 13-jarige seun is ‘n leerder by Spurwing Primêre skool en het al sy skoolgoed in die brand verloor,” sê Phillips.
Rig navrae aan Phillips by 068 153 6165 as die publiek met skenkings kan help.
LEES OOK: Vier van Elsiesrivier gaan baie lank in die tronk sit vir vlaag moorde



