'n Brand in Wellington het Sondagoggend vroeg die lewe van 'n vrou en drie seuns geeis.
Een vrou en drie seuns is Sondagoggend in ‘n huisbrand in Wellington dood. FOTO: Megan Adendorff

Ma moet toekyk hoe vlamme seun neem in huisbrand wat vier se lewe eis

'n Brand in Wellington het Sondagoggend vroeg die lewe van 'n vrou en drie seuns geeis.
Een vrou en drie seuns is Sondagoggend in ‘n huisbrand in Wellington dood. FOTO: Megan Adendorff

WELLINGTON – ’n Ma van Wellington moes Sondag in die vroeë oggendure magteloos toekyk hoe haar 10-jarige seun in ’n brandende huis sterf nadat haar herhaalde pogings om hom te red, misluk het.

Veronica Heyns (37) het Sondagoggend, op 11 Oktober, tussendeur die trane aan Nova News vertel hoe sy drie keer probeer het om haar seun Winrico, ‘n gr. 5-leerder aan Wellington Primêr uit die brandende huis in die Noordkamp- informele nedersetting, in Van Wyksvlei, te red.

Heyns se beste vriendin, Theresa Simmry (48), en Simmry se twee jong seuns, Jayden (6) en Elrenzo (4), is ook in die brand dood.

Volgens die polisie het die brand omstreeks 02:00 uitgebreek.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het by navraag aan Nova News gesê die oorskot van vier mense is in die puin van ‘n huis in Noordkamp gevind.

Die oorsaak van die brand is nog onbekend en die omstandighede rondom die voorval word ondersoek, aldus Twigg. Die polisie het ‘n geregtiglike doodsondersoek geregistreer.

Skool betuig meegevoel

Wellington Primêr het hulde aan Winrico gebring.

“Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van een van ons leerders, Winrico Heyns,” het die skool se plasing op sy Facebook-blad gelui.

Die skool het sy medelye met die familie, vriende en almal wat deur die verlies geraak word, uitgespreek en gebid dat hulle in dié moeilike tyd vertroosting, krag en vrede sal ontvang.

‘Toe ek my oë oopmaak, sien ek die vlamme’

“Ek het baie hard probeer om my kind te red en ek kon my kind nie red nie,” het Heyns snikkend gesê.

Sy en Simmry het Saterdagaand saam met hul kinders by Simmry se huis gekuier. Heyns, haar ma, haar twee kinders en Simmry se skoonma, Alletta Manuel (62), het die aand daar oorgeslaap.

Omdat baie mense in die huis oorgeslaap het, het die twee vriendinne besluit om saam met hul kinders in die agterkamer te slaap, maar Winrico het voor in die huis geslaap.

Volgens Manuel het die venster heel eerste aan die brand geslaan.

“Die vlam was so geweldig dat die vlam dak toe gegaan het. Die gordyne het begin brand, so ons kon nie nog kamers toe gehardloop het om die ander te gaan wakker maak nie,” het sy vertel.

Volgens Heyns het Simmry eerste aan die slaap geraak. Heyns was saam met haar dogtertjie en Simmry se twee seuns wakker. Sy kan nie onthou presies wanneer sy aan die slaap geraak het nie.

“Toe ek my oë oopmaak, sien ek die vlamme hardloop reg af by die gang.”

Toe sy besef wat aan die gebeur is, het Heyns haar vriendin probeer wakker maak, maar haar pogings was tevergeefs.

“Dit was vuurwarm in daai huis en deur die genade van die Here kon ek deur die venster spring,” het sy beklemtoon.

Heyns het wel daarin geslaag om haar dogter te red met die hulp van Simmry se tweede oudste dogter wat die baba deur die venster vir haar aangegee het.

‘Ek kon nie my kind red nie’

Toe Winrico die vlamme gewaar, het na die agterkamer waar sy ma en jonger suster geslaap het, gehardloop.

“Seker om te kyk waar ek was,” het sy erg onsteld vertel. Toe Winrico sy ma en suster deur die venster sien wou hy ook daardeur klim.

Toe sy hom by die venster probeer oplig, het haar hande van sy skouers afgegly.

“Dit het gevoel asof hy glad was. Ek het baie hard probeer om my kind te red. Die tweede keer toe ek hom weer wou vat, het hy geval,” het sy gesê kort voordat sy weer in trane uitgebars het.

“Ek kon nie my kind red nie en moes toe maar net toekyk hoe die vlamme hom vat,” het sy tussendeur die trane gesê.

“Ek is stukkend, my hart is seer,” het die bedroefde ma herhaaldelik aan Nova News gesê.

Dinge kon dalk anders wees

Abel Simmry (43), Simmy se man en die pa van Jayden en Elrenzo, woon weens persoonlike redes al ‘n geruime tyd lank nie meer saam met sy vrou en kinders nie.

Hy het hom Saterdagaand omstreeks 19:00 by die gesin aangesluit en saam met hulle gekuier. Hoewel Simmy hom gevra het om daar te slaap, het hy aanvanklik geweier omdat hy nie ekstra klere saamgebring het nie.

Abel het omstreeks 00:30 met ’n Uber-motor vertrek. Voordat hy gery het, het hy sy vrou en sy twee seuns gesoengroet.

“Ek het my twee seuns wat dood is weer gegroet en gesê: ‘Daddy is lief vir julle.’”

Hy sê hy het lank getalm voordat hy vertrek het, selfs terwyl die Uber buite vir hom gewag het.

“Ek kon net nie myself bring om daar weg te kom nie,” het Abel duidelik ontsteld beklemtoon.

Hy het omstreeks 02:07 die nuus ontvang. Toe hy met ’n Uber terugkeer, was die huis reeds afgebrand.

“Daar was niks oor nie. Ek is stukkend. Ek worstel die heeltyd met myself, want as ek maar net hier geslaap het, as ek net gebly het, sou ek hulle dalk kon red.”

Abel sê hy het die huis self gebou en glo hy sou geweet het wat om te doen om almal te red.

“Ek is stukkend, dit het te vinnig op my afgekom,” het hy met trane in sy oë gesê.

Simmry was haar ma se enigste kind

Vir Lena Julius (64) is die verlies van haar enigste kind en haar kleinkinders ’n onbeskryflike slag.

Julius sou ook die naweek by Simmry kom oorslaap het, maar moes weens werkpligtinge die uitnodiging van die hand wys.

“Sy was so opgewonde, want sy het gevra ek moet ook hierdie naweek by haar kom slaap, maar ek het gewerk en vir haar gesê ek sal dit ongelukkig nie kan maak nie.”

Lena het Sondag kort ná 05:00 ‘n oproep ontvang waarin sy gevra is om na die huis te kom. Aanvanklik is daar nie aan haar gesê wat gebeur het nie.

Abel het haar later meegedeel dat haar dogter en kleinkinders in die brand dood is.

“Toe ek uitvind sy is dood, het dit vir my gevoel ek is nie meer ‘n mens nie. Dit voel leeg van binne.”

“Theresa was my enigste kind. Ek was baie lief vir my kind. Ek is stukkend en gebroke. Ek sal nou nie eens my kleinkinders kan sien grootword nie.”

‘n Dogter se pleidooi

Ashley Gardiner (28), Simmry se oudste dogter, sê sy het herhaaldelik by haar ma gepleit om Wellington te verlaat.

Sy het gewoonlik elke Saterdag met haar ma gesels oor ‘n video-oproep en het haar gister weer probeer bel, maar Simmry het nie geantwoord nie.

“Vir my was dit maar net: Oukei, my ma het nie data nie.”

Gardiner sê haar familie bel mekaar nie gewoonlik vroegoggend nie en dat sy onmiddellik geweet het iets is verkeerd toe haar ouma (Lena) Sondagoggend bel.

“My ouma het nog niks gesê nie, toe val ek haar in die rede; want ek het geweet, ek kon voel dit het iets te doen met my ma.”

“Ek het vir my ma gesmeek om weg hier te kom. Ek wou nie hê sy moes hier bly nie. Ek het vir haar gesê: ‘Ma, Wellington gaan jou dood veroorsaak.’ En sy het altyd net gesê: ‘Ja, my kind, ek hoor jou,” het die gebroke dogter vertel.

“As sy maar net geluister het, as sy maar net geluister het.”


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article