Brandbestryders maak skoon nadat ongelukkige inwoners buitebande gebrand het.
Brandbestryders maak skoon nadat ongelukkige inwoners buitebande gebrand het.

Krag weke lank af in Eersterivier, inwoners nou keelvol


Inwoners van ń buurt in Eersterivier se woede oor kragonderbrekings wat weke reeds duur het vanoggend (15 Julie) oorgekook toe hulle die strate ingevaar en brande gestig het wat verkeer ontwrig.

19 Junie

Die krag in Pinetree-weg, Rosedale in Eersterivier het op 19 Junie net na middernag afgeslaan en is steeds nie aan nie.

Patwinn Linnert, ‘n inwoner wat deur die langdurige kragonderbreking geraak word sê hulle was al van bakboord na stuurboord, maar steeds is daar geen hulp vir hulle nie. “Ons het geen ander keuse gehad as om die strate in te vaar nie. Dis onmenslik om so te lewe,” sê Linnert.

Volgens Linnert het ‘n buurman se krag reeds op 16 Junie afgeslaan, waarna hy verskeie nood-oproepe gemaak het, waarvan hy verwysingsnommers het. “‘n Plaaslike elektrisiën het toe na sy kragboks kom kyk om te sien of die probleem nie by sy huis is nie. Hy sien toe dit is nie ‘n binnenshuise fout nie en gaan kyk toe na die kragboks in die straat. Nadat hy die boks ondersoek het, het hy my geroep en gesê daar wag groot probleme, want die kabels is gebrand. Sy waarskuwing was dat die boks gaan brand,” sê Linnert.

Harde geluide

Op 18 Junie het Linnert se huis se ligte begin flikker en hulle het toe afgesit. Voor middernag het hulle drie harde geluide gehoor, maar sien niks toe hulle inspeksie doen nie. Die volgende aand het die boks aan die brand geslaan, waarna die brandweer dit geblus het.

Linnert sê hulle het verwag die krag gaan vir dae af wees, maar nie vir weke nie. “Die eerste tegnikus wat uitgekom het, het gesê daar is groot fout, want dit is vandalisme. Ek sê toe vir hom dit is nie vandalisme nie, want daar is kameras in die straat. Hierna het ons verskeie mense gekontak, maar niemand kon ons help nie,” sê hy.

Dinsdagaand het die inwoners genoeg gehad en besluit om Woensdagoggend strate toe te gaan en buitebande gebrand.

Terugvoer

David Ockhuis, kliëntediensbestuurder van Eskom, het later Woensdagoggend in ‘n stempos aan die ongelukkiges gesê dat infrastrukteer wat bestel is ontvang is en dat werk tussen vandag en môre sal begin.

Linnert sê hulle aanvaar Ockhuis se antwoord en gee kans dat die werk afgehandel word, maar intussen staan hulle gereed met “buitebande” indien hul probleme nie gou aandag geniet nie.

LEES OOK: Regering probeer rugby kaap, sê Solidariteit beweging

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article