Delecia Davids sal in die tuinwoonstel van Einstein se somerhuis in Caputh, Duitsland woon en werk. Foto: Stefan Els
Delecia Davids sal in die tuinwoonstel van Einstein se somerhuis in Duitsland woon en werk.

Delecia Davids maak geskiedenis met gesogte Einstein-genootskap

Delecia Davids sal in die tuinwoonstel van Einstein se somerhuis in Caputh, Duitsland woon en werk. Foto: Stefan Els
Delecia Davids sal in die tuinwoonstel van Einstein se somerhuis in Duitsland woon en werk.

Delecia Davids is die eerste Suid-Afrikaanse akademikus wat vir die gesogte Einstein-genootskap gekies is.

Delecia Davids lyk steeds oorbluf wanneer sy oor haar groot nuus praat: Sy is die eerste Suid-Afrikaanse akademikus wat vir die gesogte Einstein-genootskap gekies is, ʼn eer wat sy as “een keer in ʼn leeftyd” beskryf. “Dit het nog nie heeltemal tot my deurgedring nie,” vertel sy.

Haar werk kombineer digitale agentskap, innoverende onderrig en kritiese navorsing oor opkomende tegnologieë.

Dié ten volle gefinansierde beurs, wat deur die Einstein-forum in samewerking met die Wittenstein-stigting aangebied word, ondersteun uitnemende jong intellektuele wat, in navolging van Albert Einstein se voorbeeld, interdissiplinêre werk buite hulle vorige spesialisasie onderneem. Davids sal in die tuinwoonstel van Einstein se somerhuis in Caputh, Duitsland woon en werk.

Met die toekenning van dié genootskap word Davids as een van die Universiteit Stellenbosch se helderste opkomende akademiese sterre erken. Haar werk as ʼn vroeëloopbaan-navorser, dosent en onderwys-opleier in die Departement Kurrikulumstudie dek kritiese opvoedkundige tegnologiestudie, digitale agentskap, opkomende tegnologieë en assessering.

By die Fakulteit Opvoedkunde is sy bekend vir die gebruik van digitale “ontsnapkamers” om nuwe onderrigmetodes vir onderwysstudente te verken. Sy is ook die stigter en akademiese leier van die US se Digital Agency Studio, ʼn sosiale impak-inisiatief wat deur die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (CASIT) befonds word en waar studente, akademici en jongmense ondersoek hoe tegnologie vorm aan leer gee.

Een keer in ʼn leeftyd

Davids se Einstein-genootskapprojek, “Herstellende storievertelling, herinnering en identiteit”, sal die persoonlike stories van mense in Suid-Afrika ondersoek wat as “bruin” identifiseer en dit in verband met Duitsland se praktyke van openbare herdenking bring.

Die projek het uit persoonlike verlies ontstaan. Haar pa is in 2023 oorlede toe sy pas met haar PhD begin het. “Ek het besef daar is soveel wat ek nie van hom, sy geskiedenis en sy herkoms geweet het nie,” sê sy. “Mens vra nie regtig totdat dit te laat is nie.”

Daardie vrae het raakpunte gehad met ervarings wat haar reeds gevorm het: haar werk op die gebied van versoening as ʼn Mandela Rhodes-beurshouer, haar rol in die Wilgenhof-koshuisfasiliteringspan saam met prof Pumla Gobodo-Madikizela en dr Wilhelm Verwoerd, asook haar betrokkenheid by die Khampepe-kommissie. Daar het dit onmoontlik geraak om “die intensiteit en dringendheid” van herstellende werk te ignoreer, vertel sy.

Haar projek sal met tien gesinne begin. Sy beplan om met studente van haar eie generasie te begin en hulle stories deur families en gemeenskappe na te spoor en sodoende “die uitdagende verhale, maar ook ons vreugdevolle erfenis” te dokumenteer.

“Ek weet nie waarheen die navorsing gaan lei nie,” sê sy, “maar dit voel of dit belangrik vir my gaan wees, asook vir ʼn groter narratief waaraan ons nog nie regtig aandag gegee het nie.”

Herverbeelding van onderrig deur tegnologie

Davids het in Delft grootgeword, ʼn voormalige Model C-skool in Parow bygewoon en in 2012 as ʼn eerstejaarstudent by die US se Irene-koshuis aangemeld. Sy beskryf haar opvoedkundige reis as “ʼn evolusie van bewustheid”. Studenteleierskap, die #FeesMustFall-tydperk en latere werk op die gebied van geslagsgebaseerde geweld het haar begrip van instellings, behoort en transformasie verdiep.

“Ek het nog altyd moeite gedoen om nie net van buite af kritiek op die gebrek aan transformasie te lewer nie,” merk sy op. “Ek wil deel wees van die transformasiereis en wil kan sê ons het dit probeer en misluk, of hierdie deel het gewerk. In ’n sekere mate is ons altyd medepligtig aan wat onaangeroer bly en wat nie.”

Sy het aanvanklik verwag om ʼn wiskunde- en wetenskaponderwyser te word, maar het tot onderwys-onderrig en die wyer invloed daarvan aangetrokke geraak. “Toe ek nagedink het oor ʼn enkele klas en die impak op 30 kinders teenoor die moontlikheid om ʼn impak te hê op al die voornemende onderwysers wat eendag voor 30 of 40 kinders sal staan, het die omvang van daardie verskil beduidend gelyk.”

Haar PhD-studie onder leiding van prof Jonathan Jansen is tans in die finale stadium en ondersoek hoe voornemende onderwysers in hulle finale jaar die gebruik van tegnologie verstaan en hoe hierdie sienings deur hulle lewensloop gevorm is. Sy het ʼn etnografiese benadering gevolg en tyd saam met studente in hulle huise deurgebring en hulle geskiedenis met tegnologie nagespoor.

Sy het onder Jansen se leiding aanbiedings by belangrike internasionale konferensies gedoen, soos dié van die Comparative International Education Society en die American Educational Research Association.

Verantwoordelike innovasie

Davids verwerp die aanname dat probleme met opvoedkundige tegnologie bloot deur middel van infrastruktuur opgelos kan word. “Ons sê toegang is die probleem en dink die probleem is opgelos as ons net nóg infrastruktuur byvoeg. In Suid-Afrika is dié kwessie egter veel meer genuanseerd.”

Haar onderrig weerspieël daardie oortuiging. Davids het “ontsnapkamer”-aktiwiteite ontwikkel wat van onderwysstudente vereis om probleme kollektief op te los, krities te dink en op onbekende maniere met kursusmateriaal om te gaan. ʼn Besoek aan die Stanford-universiteit, waar sy die navorsers agter opvoedkundige ontsnapkamers ontmoet het, het haar proefnemings in die middel van ʼn wyer internasionale gesprek oor innovasie geplaas.

Haar benadering tot kunsmatige intelligensie is ewe indringend. Sy is bekommerd oor sogenaamde “kognitiewe aflaai” (cognitive offloading), waar studente afgeronde werk lewer sonder die worsteling en onsekerheid wat met die leerproses gepaardgaan. Sy opper ook kommer oor toestemming, datasoewereiniteit en digitale hulpmiddels wat instellings “van die rak af” aankoop. “Daar is ʼn skyn van innovasie wat ons moontlik eerder skade kan berokken as wat dit tot ons redding kom,” maan sy.

Tóg verwerp sy nie kunsmatige intelligensie nie. Haar kernvraag gaan oor agentskap: Wat behoort aan tegnologie gedelegeer te word en wat moet menslik bly? Sy skep deur middel van die Digital Agency Studio en ʼn Jeugadviesraad ruimtes waar jongmense help om vorm aan navorsing oor digitale lewe te gee.

ʼn Universiteit wat binne bereik voel

Davids meen innovasie is onlosmaaklik aan ʼn gevoel van behoort verbind. Sy het in haar meestersgraadnavorsing oor plekgehegtheid ondersoek ingestel na hoekom sommige studenteleiers – veral studente van kleur – diep by die US betrokke bly, terwyl ander hulleself daarvan distansieer.

Sy voer aan dat blootstelling ʼn jong mens se besef van wat moontlik is, kan verander. ʼn Besoek aan ʼn kampus of ʼn ontmoeting met iemand wat die Universiteit verteenwoordig, kan ʼn intimiderende instelling binne bereik laat voel.

As akademikus probeer sy die sluier lig oor die akademie se “verborge kurrikulum” – die ongeskrewe reëls wat bevoorregting beskerm. “Ek probeer almal wat vra, help hoe om die dinge wat in akademiese ruimtes aangaan, te ontsluier.”

Sy werk saam met vierdejaar-, honneurs- en meestersgraadstudente as mede-fasiliteerders en mede-ontwerpers, en bied aan hulle geleenthede om lesings aan te bied, as gashere op te tree en leiding te neem.

LEES OOK: US se Sunskill-sentrum vier ‘n dekade van uitnemende chirurgiese opleiding

Sy is ook die kurator van TEDx Stellenbosch en het gehelp om dit te omskep in iets wat sy as “ʼn platform vir openbare betrokkenheid by navorsing aan die universiteit” beskryf en wat nagraadse studente, alumni en gemeenskapstemme na die voorgrond bring.

Daardie werk het tot ʼn beurs gelei om die Skoll-wêreldforum in Oxford by te woon, waar sy ʼn sessie oor digitale innovasie en die jeug aangebied het. Dit het haar oortuiging versterk dat akademiese werk en sosiale entrepreneurskap nie in afsonderlike wêrelde hoef te bestaan nie.

Onderwyser in murg en been

By die huis vind Davids vastigheid by haar gesin en haar man, wat sy as “werklik, werklik kosbaar” beskryf. “Almal sê vir my ek is baie gelukkig dat ek met hom getroud is.” ʼn Paar katte het saam met hulle in die Harmonie-koshuis ingetrek, waar sy tans as koshuishoof dien.

Sy korswel oor ʼn student se beskrywing van haar as ʼn “meta-mens”, maar praat openhartig oor die werklikheid van opoffering – van uitgestelde besluite oor kinders kry tot die voortdurende stryd vir volhoubare ritmes van werk, gemeenskap en rus.

Om te kook en te onthaal het een van haar omgee-gewoontes geword. Sy geniet dit om te besluit wie om die tafel sit en hoe om studente, kollegas en besoekers te meng sodat die gesprek oor institusionele grense heen strek. “Die gesprek gaan nooit net oor werk nie,” sê sy. “Ons praat oor ʼn miljoen goed.”

Gedurende daardie aande, in adviesrade en klaskamers, in koshuise en navorsingsvoorstelle, keer Davids telkens terug na dieselfde oortuiging: dat mense, en veral jongmense, aktiewe deelnemers moet wees aan die vorming van die instellings en tegnologieë wat húlle vorm. “As jy nie op die een of ander manier deur jou ervaring hier verander word nie, het jy jou geld gemors,” sê sy vir haar studente. Sy beskou die eintlike werk van die Universiteit as wedersydse transformasie – van mense, van plekke en van die stelsels wat lank bepaal het wie tuishoort.

“Ek is ʼn onderwyser in murg en been,” sluit sy met ʼn breë glimlag af.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article