US se Sunskill-sentrum vier ‘n dekade van uitnemende chirurgiese opleiding

‘n Chirurg demonstreer die nuwe Hugo-stelsel vir robotgesteunde chirurgie.

US se Sunskill-sentrum vier ‘n dekade van uitnemende chirurgiese opleiding


Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sunskill-sentrum vir Chirurgiese Vaardigheidsopleiding by sy Tygerberg-kampus buite Kaapstad het pas ‘n dekade van uitnemendheid in chirurgiese onderrig gevier. Terselfdertyd het dit ook ‘n belangrike nuwe hoofstuk in sy ontwikkeling ingelui met die uitbreiding van sy aanbod van opleiding in robotgesteunde chirurgie, lui ‘n verklaring deur die universiteit.

Dié sentrum, wat tot stand gekom het danksy ‘n langdurige vennootskap tussen die US en Medtronic – ‘n wêreldleier in gesondheidsorgtegnologie – het tot ‘n toonaangewende platform vir chirurgiese opleiding, vaardigheidsontwikkeling en gesondheidsorginnovasie in Afrika ontwikkel. Die insluiting van opleiding in robotgesteunde chirurgie versterk die sentrum se rol in die bevordering van voorpunt- chirurgiese praktyke, die gebruik van tegnologie en pasiëntsorg dwarsoor Suid-Afrika en die vasteland, lui die verklaring.

“Die sentrum bied al langer as ‘n dekade praktiese opleiding van wêreldgehalte vir chirurge en ander gesondheidsorgwerkers en ondersteun sodoende kliniese uitnemendheid, die gebruik van tegnologie en beter pasiëntsorg oor Afrika heen,” het prof. Karin Baatjes, vise-dekaan: leer en onderrig van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe, gesê. “Ons is net so opgewonde oor die volgende hoofstuk van uitbreiding na die vinnig ontwikkelende veld van opleiding in robotgesteunde chirurgie.”

Duisende gesondheidsorgwerkers ondersteun

Sunskill, wat in die US se Biomediese Navorsingsinstituut geleë is, is een van Afrika se voorste fasiliteite vir chirurgiese opleiding en onderrig. Sedert die opening daarvan in 2016 het dit die professionele ontwikkeling van meer as 10 000 gesondheidsorgwerkers deur middel van meer as 800 opvoedkundige en praktiese opleidingsgeleenthede ondersteun en sodoende toegang tot gevorderde mediese onderrig, innoverende tegnologieë en kliniese vaardigheidsontwikkeling onder leiding van kundiges gebied, lui die verklaring.

Sunskill het oor die afgelope dekade chirurge, verpleegkundiges, kliniese ingenieurs en multidissiplinêre gesondheidsorgspanne van Suid-Afrika, elders op die vasteland en die buiteland verwelkom.

“Die uitbreiding na opleiding in robotgesteunde chirurgie is nog ‘n belangrike mylpaal in Sunskill se ontwikkeling,” het prof. Ian Vlok, direkteur van Sunskill en hoof van die afdeling neurochirurgie aan die US, gesê. “Hierdie nuwe aanbod skep geleenthede vir chirurge van Suid-Afrika en dwarsoor Afrika om blootstelling aan een van die belangrikste tegnologiese ontwikkelings in moderne chirurgie te kry. Deur toegang tot gevorderde opleiding in robotgesteunde chirurgie te bied, rus Sunskill gesondheidsorgwerkers toe met die vaardighede en selfvertroue wat nodig is om die hoogste standaarde van pasiëntsorg te lewer.”

Hugo-stelsel vir robotgesteunde chirurgie

Die sentrum sal nou opleidingsgeleenthede vir Medtronic se Hugo-stelsel vir robotgesteunde chirurgie (RAS) skep. Die Hugo RAS-platform, wat ontwerp is vir gebruik in algemene, urologiese en ginekologiese chirurgie, kombineer beweegbare robotarms, hoë-definisie- driedimensionele visualisering en ‘n oopkonsole-ontwerp wat groter samewerking tussen lede van die chirurgiese span in die operasiesaal moontlik maak, sê die universiteit.

“As ‘n oorplantingschirurg het ek groot waardering vir die waarde wat chirurgiese kundigheid tot pasiënte se lewe toevoeg. Chirurgie red lewens, verbeter uitkomste, verkort hospitaalverblyf en kan gesondheidsorgkoste verminder,” het prof. Elmi Muller, dekaan van die fakulteit, gesê.

LEES OOK: New exhibit showcases 70-year history of Stellenbosch University’s Faculty of Medicine and Health Sciences

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article