Die hoof by die Carel du Toit-sentrum in Francie van Zijl-rylaan, Parow sê sy is verheug oor die opknapping van die sentrum se CHAT-gebou (Children Hear and Talk) – danksy die ondersteuning en hulp van privaat-donateurs. Die nuut-opgeknapte CHAT-sentrum – ‘n vroeë ingrypingssentrum – is Donderdag 9 April bekendgestel en die geleentheid is deur donateurs, die Carel du Toit-trust en oud-leerders en hul ouers bygewoon.
Die Carel du Toit-sentum, waar kinders wat doof is leer luister en praat, is in 1971 begin. Zenobia Helm, die hoof, het aan tafel verduidelik wat presies die sentrum se werk en doelwitte vandag behels.
“Ons hoofdoel is vroeë ingryping, ons wil hê dat ons kinders vroeg gediagnoseer word sodat ons kan help,” sê sy.
Die sentrum ondersteun tans sowat 280 kinders.
Ouers ook gelei
Die grootste deel van die onlangse bouprojek is by die CHAT-sentrum uitgevoer waar kinders deur opvoerders, maatskaplike werkers, terapeute en oudioloë ondersteun word, maar ook waar ouers ingelei word.
“Sodra ‘n kind gediagnoseer is met gehoorverlies dan kom hulle hierheen. Ons het personeellede wat ook by die Tygerberg-hospitaal babas se gehoor toets, en dan besoek ons ook elke Vrydag vroeë kinder-onwikkelingssentrums waar ons kinders toets om te kyk of hulle gehoorverlies het. Dit word gedoen sodat ons hulle vroeër hier kan kry, en hulle kan help. Ons hoofdoel is om hulle in ‘n hoofstroom-skool te kry, sodat hulle in die samelewing kan inpas,” sê Helm.
Die bouprojek, sê sy, was meestal gefokus rondom ouer-leiding. “Ons het personeel wat vroeg ingryp, maar wat ook kyk na ouer-opleiding. Die kind kom saam met die ouers hierheen, maar omdat die demografie so verander het, is dit deesdae nie net meer mamma en pappa wat saamkom nie; dis mamma, pappa, ouma en ‘n tannie wat saam kom want die kinders woon nie altyd by die ouers nie, so die ouers is nie altyd betrokke nie. Hiervoor moes die terapie-kamers groter gemaak word.”
Helm sê daar is opgelet dat ouers self ‘n behoefte het om bymekaar uit te kom. “Hulle wil praat oor dit waardeur hulle gaan, en ons verskaf dan ‘n spasie vir dit met ‘n aktiwiteit. Ons het byvooerbeeld ‘n sessie met ‘n arbeidsterapeut, of ‘n sessie vir gebaretaal sodat die ouers saam met mekaar kan byeenkom.”
Helm sê nog ‘n doel met die bouprojek was om die ouer-opleiding reg te kry.
Hulp aan organisasies, skole
Behalwe vir die werk by die sentrum, word daar ook uitgereik na ander organisasies. “Ons nooi hulle na die sentrum en help hulle deur middel van opleiding. Ons leer hulle oor kinders wat gehoorverlies ervaar, of gestremdhede het wat daarmee gepaardgaan.”
Die sentrum is ook gekoppel aan ‘n skool, waar arbeidsterapeute ook kinders help. Kinders wat gestremdhede het weens hul gehoorverlies, word in die nuut-opgeknapte saal deur die arbeidsterapeute gehelp.
Die verbindtenis tussen die skool en die CHAT-sentrum is ook makliker gemaak, sê Helm. Sy voeg by dat talle van die skoolkinders ook as babas by die CHAT-sentrum vir hul gehoorverlies behandel was. Helm meen hoe vroeër daar ingegryp word, hoe makliker kan kinders by hoofstroom skole geinkoporeer word.
Die sentrum staan ook skole by wat kinders met gehoorverlies opvoed, veral ten opsigte van die tegnologie wat met gehoor-aparate gepaardgaan.
Helm sê die sentrum skep ook deurgaans bewusmaking onder ouers, sodat hulle bewus kan wees dat kinders se gehoor op enige ouderdom getoets kan word. “Baie keer hoor ons die klinieke sê dis ‘n seuntijie en hulle ontwikkel bietjie later, hy gaan praat en dat ouers moet wag, maar dan verloor jy tyd wat gebruik kon word om die kind te help met sy of haar gehoor,” sê sy.
Daar is ook pogings aangewend om die regering te oortuig dat verpligte gehoortoetse by geboorte reeds uitgevoer moet word by alle hospitale.
Donateurs geloof
Helm is ook uitgevra oor die donateurs en die hulp wat die sentrum ontvang. Die bouprojek is moontlik gemaak deur donateurs wat die Rotariërklub Bellville, Bristol Breakfast Rotary Club in die Verenigde Koninkryk, die Rotariër Stigting se toekenning, die Nasionale Lotery-kommissie, Lewis-groep en Jannie Mouton-stigting insluit.
“Ons sal nie kan oorleef sonder hulle nie. Ek dink dit is wat ons spesiaal maak, ons verhouding tussen ons en die trust wat daardie soort werk vir ons kan doen. As skool is dit ‘n groot taak om aan te durf, om na privaat maatskappye te gaan en te vra ons het hulp nodig.
“Ons stap al ‘n lank pad met donateurs soos Lewis, wat reeds twee klaskamers opgeknap het, die rotariërklub en die Jannie Mouton-stigting.
“Ons sou nie goed kon floreer het, as dit nie vir hulle was nie,” sê Helm.
LEES OOK: Centre celebrates hearing success stories op World Hearing Day





