Die Carel du Toit-sentrum in Parow se CHAT-gebou (Children Hear and Talk) pronk nou met splinternuwe meubels, lessenaars, speelgoed vir die kleinspan en boekerakke danksy die barmhartigheid van twee rotariërklubs. Daarbenewens is die sentrum se kantoorgebou herontwerp om ‘n meer doeltreffende werksomgewing vir hul maatskaplike werkers, terapeute, opvoeders, oudioloë en ouers te skep. Die mure is ook geverf en nuwe vloere is aangelê.
Kinders wat doof is of aan gehoorverlies ly, word by die sentrum gehelp om te leer hoor en praat.
Die Rotariërklub Bellville en sy eweknië, die Bristol Breakfast Rotary Club in die Verenigde Koninkryk, sowel as die internasionale Rotariërstigting se toekenning, het die opknapping moontlik gemaak danksy duisende rande in skenkings.
Hulle is ook gesteun deur die Nasionale Lotery-kommissie, die Lewis-groep en die Jannie Mouton-stigting, wat die Carel du Toit-sentrum al reeds jare lank bystaan.

Pieter van der Walt van die Rotariërklub Bellville was een van die gassprekers wat tydens die bekendstelling van die nuutopknapte sentrum verlede Donderdag (9 April) ‘n toespraak gelewer het.
Hy het aan TygerBurger gesê die klub neem al byna 20 jaar hande met die Carel du Toit-sentrum.
“Dit het klein begin – met klein projekte, die uithelp met veiligheidshekke of instandhoudingwerk en ook met die installering van die speelpark. Dinge het oor die jare gevorder.”
Die Rotariërklub Bellville en die Bristol Breakfast Rotary Club het saamgespan om die opknapping te bewaarheid. ‘n Lid van die Bristol Breakfast Rotary Club, Sue Petersen, het ook noue bande met Carel du Toit, sê Van der Walt.

Al twee klubs het geld ingesamel en die Rotariërstigting het ook geld geskenk.
“Ons is verheug dat ons kon help om Carel du Toit te help om hul droom te bewaardheid. Sover ek weet wou hulle dit al die afgelope vier jaar doen,” sê Van der Walt.
Carel du Toit lê die organisasie baie na aan die hart, sê hy.
“Dit is gewis nie die laaste keer dat ons hier betrokke gaan wees nie. Soos ek reeds genoem het, is dit iets deurlopend om te verseker dat hulle aanhou om ‘n goeie diens te lewer en ook sodat hulle hul dienste kan uitbrei,” sê Van der Walt.
LEES OOK: Carel du Toit: Hoof verwelkom opknapping, loof ondersteuning







You must be logged in to post a comment.