Die Suidoosterfees wat van 27 April tot 3 Mei vir die 23ste keer aangebied word, brei vanjaar verder uit as die Kunstekaap-teaterkompleks, met verskeie nuwe venues wat benut word.

“Kort voor lank” is een van die fees se gewildste programafdelings – waar uiteenlopende stories in treffende 30-minuut-vertonings lewe gegee word. Hierdie platform is ‘n broeikas vir vernuwing en bied aan feesgangers ‘n toeganklike manier om nuwe stemme, genres en vorme van teater te ontdek.

‘n Hoogtepunt op die program is Jakobregop – die première van Hennie Aucamp se heerlik ondeunde saterspel wat reeds in 1988 in Sjampanje vir ontbyt verskyn het, maar nog nooit voorheen opgevoer is nie.

Jakobregop poster
‘n Hoogtepunt op die program is ‘Jakobregop’, ‘n slegs-vir-volwassenes komedie.

Hierdie slegs-vir-volwassenes komedie met Dean Balie, Marcel Meyer en Anzio September, onder regie van Fred Abrahamse, speel sensueel, stylvol en skreeusnaaks met temas soos menslike begeerte, die ouderdom en magsverhoudings tussen mense. Jakobregop is bedoel vir volwasse gehore wat nie skrik vir naaktheid nie.

Toneel

Adam Small 90 is ‘n reeks nuwe kort tekste waarin Small se werk herverbeel word deur jong skrywers en spelers van die Proscenium-dramakompetisie. In Ongekarteerde drome, Langs die pad uitsak,Tussen vlugte en Waar oekal djy belong word temas soos behoort, drome, identiteit en verlies ondersoek teen die agtergrond van ‘n samelewing wat steeds deur ongelykhede gekenmerk word. Hierdie reeks, ondersteun deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, bring jong kunstenaars in kreatiewe gesprek met een van Suid-Afrika se mees invloedryke literêre figure.

Ingrid Jonker se enigste toneelstuk kry nuwe lewe in ‘n Seun na my hart, onder regie van Marí Borstlap, terwyl die digteres en aktrise Veronique Jephtas in Ouma slaan ‘n ses hemel toe geloof, rou en verlies in ‘n poëtiese, intieme solovertoning ondersoek.

Humor en sosiale kommentaar loop dikwels hand aan hand. In Baggage gebruik Jurgen McEwan en Aviwe Ngabom skerpskets-komedie om Suid-Afrikaanse werklikhede te belig teen die agtergrond van ‘n lughawe.

LEES OOK: ‘n Vars briesie komedie waai by vanjaar se Suidoosterfees

Flip-flop met Deon Lotz en Gary Naidoo besin oor die harde werklikhede van akteurs se pogings om in ‘n uitdagende bedryf te oorleef, terwyl Pick a Struggle se Zach Esau en Roland du Preez met spitsvondige humor en kwesbaarheid die ervarings van minderhede in ‘n komplekse samelewing ondersoek.

Deon Lotz
Deon Lotz besin saam met Gary Naidoo in die komedie ‘Flip-Flop’ oor akteurs se pogings om in ‘n uitdagende bedryf te oorleef.

Musiek

Op musiekfront staan Stadskoor, -Choir, -iKwayara sing diva-pop uit as ‘n uitbundige produksie waarin ikoniese poptreffers uitgevoer word met ryk koorharmonieë, energieke vertolkings en ‘n vars, kontemporêre klank. Die skitterende fopdoskunstenaar Manila von Teez bring haar legendariese flair, humor en glans na die optrede.

In Eenmanstuk neem De Klerk Oelofse feesgangers op ‘n speelse en verrassende reis deur ‘n versameling eenbedrywe, mimiek en pantomime. Met minimale hulpmiddels en ‘n oorkoepelende fokus op die menslike verbeelding word die verhoog ‘n oop speelveld waar teater as medium self ondersoek en bevraagteken word.

Kabaret en musiek blom in Karamonkie, waarin Bianca Flanders ‘n speelse, grensverskuiwende keuse van kontemporêre skryfwerk, visuele teater en kamishibai aanbied.

Bianca Flanders
Bianca Flanders is in “Karamonkie” te sien. Credit: Gys Loubser

In Net ‘n bietjie liefde bring André Schwartz hulde aan mentors en kunstenaarsvriende wat sy loopbaan help vorm het. En in Verweef skep Corneil Müller ‘n intieme klankwêreld waarin stem, tjello en klavier saamvloei in ‘n poëtiese refleksie oor herinnering en betekenis.

Dans

Die Waterfront-teaterskool se studente stel hul talent ten toon in Encore met sang, toneelspel en dans. In The Magic of Musicals: From Good to Great bring Northlink-kollegestudente gunstelinge uit musiekblyspele met flair na die verhoog.

Dansproduksies soos Sbo Ndaba’s Bolero, Unmute en Sands of Time fokus op die liggaam as draer van storie, emosie en betekenis.

In Sbo Ndaba’s Bolero bring SboNdaba Dance ‘n asemrowende versmelting van kontemporêre dans en Afrika-ritmes na die verhoog met ‘n groot ensemble wat fisieke krag en emosionele intensiteit kombineer.

Unmute, gechoreografeer deur Andile Vellem, gebruik Suid-Afrikaanse gebaretaal as primêre bewegingstaal en bring dansers met uiteenlopende vermoëns byeen in ‘n verbeeldingryke werk oor kommunikasie en inklusiwiteit.

Unmute
‘n Toneel uit “Unmute”.

Sands of Time deur die Jacqui Pells-balletskool ondersoek tyd en verganklikheid deur elegante choreografie en beweging.

Kyk ook uit vir Opera Trios: Love Triangles, Trysts and Intrigue met jong sangers van Opera UCT, Op reis in 30 minute waarin Luna Paige haar musikale swerwersverhale deel, Songs van die hart met Jodi Jantjies en Karen Petersen, The Tramp (Bite-sized) deur Wêla Kapela en A Victor Borge Taster met Winand Grundling.

Besoek www.suidoosterfees.com vir die volledige program.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article