Die gewilde aqua-aerobics-instrukteur Jocelyn van Schalkwyk van Welgemoed het Donderdag haar 80ste verjaardag met groot joligheid saam met haar studente in Durbanville en Plattekloof gevier.
Jos, soos almal haar ken, is ‘n voorbeeld van die waarde van oefening namate ‘n mens ouer word en ook ‘n bewys dat ouderdom inderdaad net ‘n syfer is.
Sy vertel die Garmin-fiksheidstoestel het haar op haar verjaarsdag amptelik geklassifiseer as: “Ouderdom 80, Fiksheidsouderdom 58.”

Die energieke tagtigjarige gee elke week 11 klasse van 45 minute elk, en met sowat 120 deelnemers het sy soms 40 mense gelyktydig in die swembad. In agt van dié klasse oefen sy sommer self saam in die water.
Sy bied nou al vir twee dekades klasse aan, waaronder die afgelope 10 jaar by Planet Fitness in Plattekloof en sedert 2020 by Ipic Active in Durbanville. Sy het ook al twee keer ‘n groot gimnasiumgroep se toekenning as Aqua-aerobics-afrigter van die jaar gewen.
Van beserings tot die water
Sy is in 1946 in Amsterdam, Nederland, gebore en het op negejarige ouderdom saam met haar ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Sy en haar ma het op ‘n Saterdag per skip aangekom, en die daaropvolgende Maandag moes sy in Parow met skool begin – ‘n plek waar niemand Nederlands gepraat het nie en sy geen woord Afrikaans geken het nie.
Tog het sy op skool uitgeblink in swem, hokkie, atletiek en klub-tafeltennis. Sy het later ‘n graad in Liggaamlike Opvoeding en ‘n onderwysdiploma aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
LEES OOK: Ma van Durbanville publiseer eerste kinderboek om kinders van ‘gevolge’ te leer
Ná universiteit het sy Liggaamlike Opvoeding by die Hoërskool Jan van Riebeeck onderrig, as koshuismoeder opgetree en ook bergstaptogte vir skoolkinders gelei. Later het sy selfs gehelp om meisieshokkie en ‘n trompoppiegroep by die Laerskool Welgemoed op die been te bring.
Haar pad na aqua-aerobics het egter ná twee ernstige beserings begin.
“Ek het in my studentejare my enkel in gimnastiek seergemaak. En in my vyftigs het die enkel weer gebreek toe ek van ‘n leer afval. Ek kon daarna nie meer die dinge doen wat ek wou doen nie en het toe begin met aqua, omdat dit die impak van jou voete afhaal,” verduidelik sy.
Omdat haar enkel ná die tweede breuk “so styf soos hout” geword het, het sy by Planet Fitness in Durbanville klasse begin bywoon. Aangesien sy tydens haar universiteitsopleiding daarvoor gekwalifiseer het, het sy gou vir ander instrukteurs begin instaan en ‘n voltydse afrigter geword. Toe die Durbanville-tak sluit, het sy na Plattekloof verskuif en later ook by Ipic Active begin.
Musiek en samesyn
Wat haar klasse veral gewild maak, is die vrolike musiek en die kameraderie. Soms sing die groep uit volle bors saam, wat gereeld nuuskierige jongmense in die gimnasium laat kom loer om te sien wat aangaan.
“Ek hou van 80’s- en popmusiek, maar gebruik enige musiek met ‘n lekker maat – selfs boeremusiek,” sê sy.
Haar man, Flip, doen die tegniese klankredigering op die rekenaar volgens haar presiese voorskrifte sodat die snitte naatloos aaneen loop. Hy vermeng al die musiek teen ‘n tempo van 128 slae per minuut, omdat dit volgens Jocelyn die ideale ritme is waarop ‘n mens gemaklik in die water beweeg.
Hoewel die gemiddelde ouderdom van haar studente sowat 66 is, is daar ook jonger gesigte, met ‘n 21-jarige wat onlangs by die groep aangesluit het.
“Daar is ook ‘n gevoel van gemeenskap, sê sy. “Die mense word goeie vriende en drink agterna koffie om te gesels.”
‘n Geheim tot ‘n lang lewe
Volgens Jocelyn transformeer die klasse haar studente se lewens – veral dié van ouer mense of mense wat ná beserings en operasies herstel.
“Dit doen wondere vir rumatiek en geestesgesondheid om in die water te kom. Die beweging van water om jou is terapeuties. Oefening in water het geen impak op ledemate nie, dus is dit iets wat jy ná ‘n knie- of heupvervanging kan doen.”
Om op jou oudag fiks te bly, verg volgens haar harde werk en baie genade, maar sy glo dit is die geheim tot ‘n langer lewe.
LEES OOK: ‘n Versteekte juweel in Welgemoed: Die herontdekking van kunstenaar André Wilhelm Groenewald
“As ‘n mens eers op die stoep sit en niks doen nie, gaan jou liggaam en gees agteruit. Dit hou my aan die gang en dwing my om vroeg op te staan en my dag te beplan,” sê sy.
En aftree? Dit is glad nie op haar radar nie: “Ek sal aanhou klas gee totdat die gyms my nie meer wil hê nie,” skerts sy.





You must be logged in to post a comment.