file picture of a City banner
Inwoners het tot 30 April om kommentaar te lewer op die Stad Kaapstad se konsepbegroting vir 2026-’27.

Inwoners het tot einde vandeesmaand om kommentaar te lewer op die Stad Kaapstad se konsepbegroting vir die 2026-’27-boekjaar.

Die totale begroting beloop R87,97 miljard, waarvan R13,03 miljard vir kapitaalprojekte en R74,76 miljard vir operasionele uitgawes bestem is.

Die sogenaamde “Stad van hoop”-begroting wat onlangs ter tafel gelê is, sit die Stad se finansiële prioriteite en beplande beleggings vir die komende boekjaar uiteen.

Die voorgestelde verhoging van munisipale heffings en tariewe sal op 1 Julie in werking tree.

Eiendomsbelasting word bereken volgens die waardasie van die eiendom soos op die Stad se algemene eiendomswaardasierol met ‘n algehele vermindering van 10,2% in die koers-in-die-rand.

Water- en sanitasiekostes styg met 4,5% terwyl vullisverwydering, sowel as die stadswye skoonmaakheffing, beide met 3,75% toeneem. Die vaste basiese heffings vir water en sanitasie word volgens die waarde van die eiendom bereken.

Die gemiddelde styging vir elektrisiteit is 6,67%. Volgens die Stad is die elektrisiteitsverhoging 2,23% laer as die verhoging wat Eskom vir elektrisiteit aan munisipaliteite vra.

R8,3 miljard is begroot vir die Stad se deernisbeleid, wat verlaagde kostes bied aan behoeftige inwoners wat kwalifiseer.

Kapitaalprojekte in Subraad 14

Van die groter Stadsprojekte in Kuilsrivier sluit die oprig van strukture vir informele handel in die sakekern (R8,04 miljoen), die verbetering (Fase 2) van die Kuilsrivier-vervoerdepot (R5,78 miljoen) en die ontwikkeling van ‘n “Safe Space” vir haweloses (R1,1 miljoen) in. Vir die konstruksiewerk aan die Zevenwacht-reservoir en waternetwerk is R2 miljoen begroot en vir die Rietvlei-pompstasie en pypleiding R131 448.

Ander groot projekte in die wyer gebied binne die grense van Subraad 14 sluit in:

  • Die uitskakeling van die Buttskop-padtreinoorgang: R500 000;
  • Blueberry Hill-behuisingsprojek: R67,14 miljoen;
  • Aloe Ridge-behuisingsprojek: R10 miljoen;
  • Opknapwerk in informele nedersettings: R110 miljoen;
  • Verbetering van die Mfuleni-taxistaanplek: R44,7 miljoen; en
  • Hergebruik van behandelde afvalwater: R9,8 miljoen.

Wykstoewysings

Die konsepbegroting maak ook voorsiening vir wyksprojekte. Wyke 11, 14 en 19, onder Subraad 14, sluit dele van Kuilsrivier in. Die wyksbegrotings beloop tans R1 miljoen per wyk.

Vir Wyk 11, waar Wouter de Vos tans as wykraadslid dien, is R200 000 geoormerk vir skoonmaakprojekte in die gebied. ‘n Verdere R200 000 is vir die konstruksie van sypaadjies in Sarepta en R100 000 is vir verbeterings by die Sarepta-sportkompleks.

Altesame R85 000 gaan vir ‘n kamera wat nommerplate kan herken (LPR) en R18 000 is begroot vir die instandhouding van CCTV/LPR-kameras. Beide die Kuilsrivier- en PD Paulse-biblioteek ontvang R25 000 vir boeke. R80 000 gaan vir naskoolse programme vir die jeug en R67 000 vir ‘n ontwikkelingsprogram vir ontluikende kunstenaars.

Kariena Maré is tans die wykraadslid vir Wyk 14, wat onder meer Blackheath insluit. Die wykstoewysings maak voorsiening vir verskeie programme: R30 000 vir hulpbronne vir vroeëkinderontwikkeling; R60 000 vir die aktiewe-seniorsprogram, R100 000 vir die vakansieprogram, R30 000 vir ‘n buitelug-avontuurprogram en R60 000 vir die ontwikkelingsprogram vir kunstenaars. R100 000 is begroot vir bewusmaking oor middelmisbruik en R66 000 vir bewusmaking oor MIV/vigs. R150 000 is vir buurtwagtoerusting begroot.

Kalkfontein rommel
Rommel langs die kanaal by Kalkfontein: Wyk 19 se wyksbegroting maak onder meer voorsiening vir R232 000 vir “green jobs”, tydelike werksgeleenthede van die Stad, wat die skoonmaak van die kanaal en omgewing insluit. Foto: Carina Roux

Wyk 19, wat onder meer Kalkfontein en Wesbank insluit, se raadslid is tans Ebrahim Sawant. Die wykstoewysings sluit R215 000 elk in vir “Park Buddies” (vrywilligers betrokke by parke), sowel as skoonmaakprojekte in die wyk.

R135 000 is begroot vir buurtwagtoerusting. Soos in Wyk 11, is R85 000 vir ‘n LPR-kamera en R18 000 vir instandhouding van kameras begroot.

R100 000 is geoormerk vir die naskoolse program vir die jeug en R232 000 vir sogenaamde “green jobs” (tydelike werksgeleenthede).

Vergaderings

Die openbare deelnameproses oor die konsepbegroting is tans aan die gang.

Die openbare vergadering vir Wyk 19 is Maandag 20 April om 17:00 in die Kalkfontein-gemeenskapsaal.

Wyk 14 se vergadering is Donderdag 23 April om 17:00 in die Blackheath-gemeenskapsaal.

Inwoners word aangemoedig om van die geleenthede gebruik te maak om hul menings en voorstelle oor die konsepbegroting te lug. Insette kan ook elektronies aan die Stad voorgelê word.

Besoek www.capetown.gov.za/City-Connect/Have-your-say/ of stuur e-pos na budget.comments@capetown.gov.za om kommentaar te lewer.

LEES OOK: Brackenfell residents slam City’s draft budget at fiery public meeting

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article