Die voormalige Hoërskool DF Malan, in Bellville, het Maandag ‘n nuwe hoofstuk in sy geskiedenis begin toe die skool vir die eerste keer sy deure geopen het onder die naam DF Akademie. Die historiese oomblik is gekenmerk deur toesprake van Ferdi Booysen, voorsitter van die beheerliggaam, en Hannes Oosthuizen, die skool se nuwe hoof.
Dit was ‘n jolige oggend saam met spesiale gaste, onder andere oud-skoolhoofde en onderwysers van DF Malan, saam met die matriekklas van vanjaar.
Booysen het beklemtoon dat die naamsverandering nie ‘n ligsinnige besluit was nie, maar die uitkoms van ‘n jare lange proses wat op 4 Junie 2025 deur die Appèlhof in Bloemfontein as wettig en regverdig bevestig is.
“Die hof het bevestig dat die beheerliggaam sy plig nagekom het deur verantwoordelik op te tree in die belang van die skool se langtermyn toekoms,” het Booysen verduidelik.
LEES MEER HIER: https://novanews.co.za/tygerburger/df-malan-se-beheerliggaam-verlig-oor-hofbeslissing-20231027/
Die voorsitter het verseker dat die bedoeling met die naamsverandering nie is om geskiedenis uit te wis of tradisie te ontken nie, maar om die skool se naam in lyn te bring met sy waardes.
DF Akademie bly onwrikbaar verbind tot Afrikaans-medium-onderrig en ’n Christelike grondslag.

Nuwe skoolhoof se perspektief
Oosthuizen, wat homself as ‘n “nuwe DF’er” beskryf, het die ervaring ‘n “Damaskus-pad” genoem. “DF voel vir my op die oomblik soos ‘n baie lekker plek. Ek sien uit na dit wat voorlê,” het hy gesê.
Die nuwe skoolhoof het beklemtoon dat DF nog altyd ‘n getroue leier in die onderwysbedryf was. “Terwyl ons met dankbaarheid terugkyk na ‘n ryk verlede, sien ons met opgewondenheid uit na die toekoms en die groeipad wat vir ons voorlê.”
Booysen het verseker dat die skool se kernwaardes behoue bly: “DF Akademie bly onwrikbaar verbind tot Afrikaans- medium-onderrig en ‘n Christelike grondslag. Ons streef steeds na ‘n kultuur van uitnemendheid op alle gebiede. Wat verander het is die naam. Wat nie verander nie, is die hart en siel van DF.”
Die skool behou sy skoolwapen met die leuse “Vir jou Suid-Afrika”, sy waardes, tradisies en hoë akademiese standaarde. Selfs die skooldrag bly grootliks dieselfde met slegs beperkte aanpassings.
Die bekende afkorting DF kry nou nuwe betekenis en staan vir Dux Fidelis, wat “getroue leier” beteken.
“In ‘n wêreld vol verandering kies ons om ligdraers te wees, getroue leiers wat deur ons voorbeeld ‘n positiewe verskil maak nie net in ons gemeenskap nie, maar ook in die wêreld daar buite,” het Booysen verduidelik.
Oosthuizen het hierdie sentiment beaam deur te sê: “Met die begin van ‘n nuwe era bly ons bewus daarvan dat sy lig op ons skyn en dat ons elke dag kies om daarin te wandel.”
LEES OOK: https://novanews.co.za/tygerburger/df-kry-nuwe-skoolhoof/
Albei sprekers het erken dat die verandering vir sommige emosioneel uitdagend was. Die skoolbestuur wil daardie emosies met respek hanteer.
“As ‘n nuwe DF’er beskou ek myself bitter bevoorreg om saam aan hierdie nuwe hoofstuk te mag skryf,” het Oosthuizen gesê, terwyl hy die gemeenskap bedank het vir hul teenwoordigheid tydens die geskiedkundige oomblik.

Brug tussen verlede en toekoms
Booysen het beklemtoon dat DF Akademie nie ‘n breuk met die verlede is nie, maar eerder ‘n oorgang tussen ‘n ryk geskiedenis van meer as 70 jaar en ‘n hoopvolle nuwe toekoms.
Die skool het verlede jaar sy 70ste bestaansjaar gevier en het onlangs die 2025-matrikulante se uitslae gevier.
● 100%-slaagsyfer
● 96,4%-universiteitsvrystelling
● 502 onderskeidings
● 54 kandidate wat met ’n A-gemiddelde slaag
● 58% van die klas slaag met ’n gemiddelde bo 70%
● Algehele klasgemiddelde: 71,4%
Albei leiers het alle belangstellendes uitgenooi om saam voort te bou aan die skool se toekoms. Booysen het afgesluit met ‘n oproep tot samewerking by ‘n skool “waar geloof, ons Afrikaanse taal en uitnemendheid hand aan hand loop”.
Oosthuizen het die belangrikheid van die oomblik onderstreep: “Mag die naam DF Akademie lank op almal se lippe wees en in almal se harte bly vir dit waarvoor ons staan en vir dit waarvoor ons leef.”
Die 2026-skooljaar begin dus met ‘n nuwe identiteit, nuwe leierskap, maar met dieselfde verbintenis tot uitnemendheid wat die instelling oor dekades gekenmerk het. Die skool stap vorentoe as DF Akademie – ‘n “getroue leier” in die onderwysbedryf.





