Die Tygerberg-kinderkoor
Die Tygerberg-kinderkoor het goud gewen by die Summa Cum Laude-koorkompetisie.

Tygerberg-kinderkoor wen internasionale kompetisie by Sun City


Die Tygerberg-kinderkoor het ‘n besondere prestasie behaal deur as wenners aangewys te word in die kinderkoor-afdeling van die Summa Cum Laude-kompetisie, wat oor die langnaweek by Sun City gehou is. Die koor is met ‘n “Gold Level 3 Master”-uitslag bekroon.

Die Tygerberg-kinderkoor by Sun City.
Die Tygerberg-kinderkoor by Sun City.

Internasionaal

Die Summa Cum Laude-kompetisie is ‘n internasionale koor- en orkeskompetisie vir die jeug wat vanuit Wene, Oostenryk, in samewerking met die Choral Celebration Network Foundation gekoördineer word. Dit was die eerste keer dat die organisasie die kompetisie buite Oostenryk aangebied het.

Die beoordelaars was Saul Zaks van Denemarke, Kenneth Griffith van Boston (VSA), Pearl Shangkuan van Michigan (VSA), Renette Bouwer en Bernard Krüger (SA). Kore en orkeste vanuit Suid-Afrika, Zimbabwe, Duitsland, Oostenryk en Kanada het deelgeneem.

Wêreldklas

Die Tygerberg-kinderkoor is derde geplaas volgens Interkultur se Top 1 000-ranglys vir die beste kore wêreldwyd. Die koor is die enigste kinderkoor in die top-vyf en ook tweede op die wêreldranglys in die afdeling vir kinder- en jeugkore.

Onder leiding van Karina Erasmus, dirigent, met Elizca Mulder as begeleier, het die koor in Sun City ‘n veelsydige program met musiek uit verskillende style en tradisies, aangebied. Hul kompetisieprogram het “Cantate Domino” van Charlotte Botha, die “Ave Maria” van Mozart, “Ave Maris Stella” van Franco Prinsloo, “A Puppet’s Dream” van Darius Lim en “Mangisondele Nkosi Yam”, ‘n tradisionele Zoeloelied wat deur Michael Barrett verwerk is, ingesluit.

Die koorlede is kinders tussen 10 en 15 jaar oud van skole oor die noordelike voorstede van Kaapstad heen. Vanjaar vier die koor sy 54ste bestaansjaar.

Musiek verenig

Die sukses in Sun City volg op ‘n jaar van groot internasionale en nasionale optredes. Dit is ‘n verdere hoogtepunt vir die koor wat reeds vir meer as vyf dekades aan jong sangers die geleentheid bied om hul liefde vir musiek te ontwikkel en op groot verhoë te deel.

Vir Erasmus, wat reeds 26 jaar by die koor betrokke is, is die prestasie ook ‘n persoonlike mylpaal. “Dit is wonderlik om te sien hoe kinders uit verskillende skole deur musiek saamkom en ‘n span vorm. Die kinders het ongelooflik hard gewerk vir hierdie kompetisie en ek is baie trots op hulle. Om Suid-Afrika op hierdie vlak te kan verteenwoordig, is ‘n groot voorreg,” sê Erasmus.

Optredes

Die Tygerberg-kinderkoor se volgende groot geleenthede is die Prestige-konsert op 20 September in die Endlersaal, Stellenbosch en ‘n optrede op 11 Oktober tydens die Stellenbosch Woordfees. Hulle sluit die jaar af met Kerskonserte op 5 Desember in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow en op 6 Desember in die Endlersaal.

Kaartjies vir die optredes is beskikbaar by Webtickets en Quicket (Woordfees).

LEES OOK:  Con Spirito Filharmonies bring hoogtepunte uit Händel se Messias na Bellville

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article