Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

As daar nou een ding is wat ‘n mens nooit, ooit, enigsins vir ‘n kind mag sê nie – iets waaroor ‘n mens hulle nie mag verwyt nie – is dit dat hy of sy jou tyd mors.

Dit is taboe. Donkerdruk en absoluut: Nee! Kinders mors nie tyd nie.

As jy só meen, het jy ‘n baie belangrike deel van die lewe gemis.

Kinders maak die lewe vol. Kinders maak ‘n mens soms moeg en kinders daag ‘n mens dikwels meer uit as wat ‘n mens verwag.

Maar hulle verwyt dat hulle jou tyd mors, dit mag jy nie.

Hoekom nie? Gewoon oor die skade wat dit doen, die blywende indruk wat dit laat en die onmoontlike taak daarvan om so ‘n kind of kinders weer te laat voel hulle is iets werd.

Wanneer ‘n mens kinders bou, bou ‘n mens sterk mense en ‘n sterk toekoms wat vandag, in die hede reeds, ‘n verskil maak. Wanneer ‘n mens hulle te na kom, is dit soveel moeiliker om te bereik wat hulle moet bereik.

Onlangs beleef ek hoe ‘n afrigter van ‘n sportspan só optree. Onthou, jy stel jouself beskikbaar as afrigter, jy onderneem om tyd in te ruim daarvoor, jy weet dit gaan van jou menswees vat – en natuurlik gaan kinders ‘n mens uitdaag.

Om dan vir kinders te sê hulle mors jou tyd, is gewoon ‘n strategiese fout. Jou bedoeling is dalk om die span te motiveer, maar jy ontmoedig. Jou bedoeling is om te bou, maar jy breek.

Dit maak nie saak of jy ‘n ouer is nie, of ‘n afrigter; of dit in die vriendekring is of dalk in die kerkgemeenskap nie – kinders moet met waardigheid en respek hanteer word.

Natuurlik moet hulle goeie maniere hê. Maar kinders mors nie jou tyd nie. Nooit nie.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.