“Ons wil seker maak ons verbeter van verlede jaar af, dan het ons sukses bereik,”
So sê Tjaart van der Walt, direkteur van rugby by Helpmekaar College, oor die 2026 rugby-seisoen wat voorlê. Daar is net een rigting wat Helpies in 2026 kan gaan as hulle wil verbeter en dit is reguit boontoe.
“Die fokus is by die Noordvaal toernooi, aangesien dit is waar jy gemeet word,” verduidelik hy.
Dié span het verlede jaar in die eindstryd teen Garsfontein vasgeval, en as skool het hulle tweede in die afdeling geëindig.
“Daar is ‘n goeie grondslag in 2025 gelê en ons wil daarop bou. Daar is ‘n goeie groep afrigters, die uitdaging is om so gou as moontlik jou ritme te kry,” sê Van der Walt.
Helpmekaar het ‘n paar rillers op hulle bepalings voor die Noordvaal-beker afskop. By die Noord-Suid toernooi gaan hulle vir Boland Landbou en Grey College aandurf terwyl hulle by Wildeklawer vir Paarl Gimnasium en Queen’s College gaan aanvat.
“Ons moet teen sterk skole speel en kompeteer. Ons gaan altyd probeer om ons beste te lewer. Ek is gelukkig met die beplanning,” het hy verduidelik.
Van der Walt mors nie tyd nie, hy maak seker elke bietjie tyd wat hulle tot hulle beskikking het gebruik hulle om die spelers voor te brei. Volgens hom is daar goeie kommunikasie tussen die verskillende sporte dat almal die nodige voorbereiding kan doen.
“Gelukkig het ons baie toegewyde kinders hier by die skool het, so hulle werk hard wanneer hulle oefen,” vertel hy.
Daar is nie plek vir spanne wat wil wegkruip in die Noordvaal-beker nie. Garsfontein sal vanjaar ‘n hulle vierde agtereenvolgende Noordvaal-beker titel teiken, terwyl Noordheuwel, Menlo-park en Monnas almal vir Helpies gaan toets.
“Ons is gelukkig dat ons baie goeie afrigters het en ‘n lekker omgewing. Ons gebruik elke minuut om te afrig. Ons planne is in plek en ons hoop dit werk,” het hy afgesluit.
Helpies skop hulle seisoen met vriendskaplike wedstryde teen Witteberg en Maritzburg college af. Meeste skole probeer in ‘n veldtog op ‘n gemaklike wyse begin en bou, maar Vd Walt spring met altwee voete in die diep kant in.





