Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Jy mag, en moet, ander se mylpaal-vreugde deel

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Daar is min dinge wat ‘n mens so goed laat voel soos om in die vreugde te deel van iemand wat ‘n reusemylpaal bereik het. Baie keer dink ons aan ‘n mylpaal as iets daar ver en groot en amper onbereikbaar. Maar dikwels is ‘n mylpaal om ‘n langtermyndoel wel te bereik.

Dit is soos daardie atleet wat sy of haar persoonlike beste bereik, daardie persoon wat sy of haar finansiële posisie omkeer, daardie oomblik wanneer ‘n verslaafde uiteindelik die verslawing oorwin, daar waar iemand regkry wat ‘n tyd gelede nog ondenkbaar gelyk het.

Soveel voorbeelde is om ons waar mense die skynbaar onmoontlike regkry. Ons moet deel in daardie vreugde en trots wees. Dikwels is ons so ingestel op onsself en ons doelwitte en ons eie-ek dat ons vergeet om trots en dankbaar te wees en te deel saam met ander wat die lewensstruikelblokke in hul eie lewe oorwin.

Ek het hierdie week ‘n punt gemaak om te kyk hoe kan ek deel in die doelwit van ‘n ander. Ek was verstom. Oor hoeveel goed ek laat verbygaan, sonder dat ek dit saam met ander vier.

Ek was sommer vies vir myself, juis omdat ‘n mens mooi doelwitte wat ‘n ander bereik soms mis.

Op skoolvlak het ek die week beleef hoe ‘n jongkind vir die eerste keer voor mense praat, hoe ‘n atleet ‘n persoonlike beste bereik; ek staan saam met ‘n bejaarde wat ná ‘n operasie weer vir die eerste keer ‘n tree gee, ek beleef ‘n pa wat vir die eerste keer dit regkry om vir sy seun te sê ek is lief vir jou; ‘n hoogtepunt toe iemand ná vyf jaar herstel uit skuldberading; ‘n verslaafde wat haarself gaan inboek; ‘n kind wat vir terapie die eerste keer op ‘n perd se rug sit; ‘n ma wat uiteindelik haar dogter vergewe.

En nog. Daar is soveel voorbeelde.

Ek moes eers leer om ander se oorwinnings te vier. Voor ek my eie doelwitte kon verstaan.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article