Die strafsaak teen Achmat Alexander, die man wat algemeen as die beweerde Paarlse “fotograafverkragter” bekend staan, is vir nóg ses maande uitgestel, terwyl ‘n tweede vrou intussen na vore getree het met verkragtingsaantygings en die ondersteuning van Action Society ingeroep het.
Die verhoor het vandeesweek in die Paarl-streekhof voortgegaan, waar Leighché Thomas weer as die staat se eerste getuie getuig het.
Ná twee dae van getuienis op 23 en 25 Junie, waartydens Thomas se kruisondervraging voortgesit is, is die saak uitgestel tot 18, 19 en 21 Januarie 2027.
Die staat sal na verwagting dan die ondersoekbeampte en die mediese dokter wat Thomas ná die beweerde verkragting ondersoek het, roep om te getuig.
Alexander het op 18 Augustus 2025 onskuldig gepleit toe sy verhoor begin het nadat hy in Februarie 2023 in hegtenis geneem is. Hy is tans op borgtog.
Gebeure
Alexander, wat ‘n bekende fotograaf in die Drakenstein-omgewing was, word aangekla vir die verkragting en ontvoering van Thomas, wat 19-jaar-oud was toe die beweerde misdade glo in Desember 2021 gepleeg is.
Thomas het in Augustus 2025 getuig dat sy ‘n paar jaar voor die beweerde verkragting eerste uitgereik het na Alexander om navraag te doen rondom fotosessies, het Paarl Post destyds berig.
Sy was toe net 16-jaar-oud en Alexander het vir haar gesê sy is onder ouderdom.
Soos die jare verbygegaan het, het sy van die interaksie vergeet tot Alexander uit sy eie uit kontak met Thomas gemaak het met die offer vir ‘n fotosessie.
Sy was toe 19-jaar-oud. Die dag van die fotosessie het Alexander glo vir Thomas gesê dat die plek wat sy voorgestel het waar die foto’s geneem moet word nie geskik is nie.
Hy het toe glo aangedring op ‘n plek naby water en die berge, en hulle is na Bainskloofpas.
Tydens die sessie is Thomas glo ‘n alkoholiese drankie gegee wat ‘n bedwelmende middel bevat het.
Sy is kort daarna glo in sy voertuig verkrag.
Thomas het getuig hoewel sy telkens “nee” gesê het, het Alexander voortgegaan om haar te verkrag, volgens Paarl Post se vorige beriggewing.
Familie wag op geregtigheid
“Elke uitstel voel soos nóg ‘n terugslag,” het Thomas se ma, Margerth Thomas, in ‘n verklaring wat uitgereik is deur Action Society, gesê.
“Hierdie ses maande lange uitstel beteken die beskuldigde sal nóg ‘n Kersfees en Nuwejaar as ‘n vry man deurbring, terwyl ons steeds wag op geregtigheid.
Ons leef al jare lank met hierdie saak en elke vertraging hou ons langer vasgevang in onsekerheid.”
Action Society ondersteun Thomas en haar familie reeds langer as vier jaar nadat die ondersoek na haar saak aanvanklik tot stilstand gekom het.
Volgens die organisasie moes sy deurentyd terugkeer hof toe om een van die mees traumatiese ervarings van haar lewe te herleef in haar soeke na geregtigheid
Tweede klaer kom na vore
Terwyl die strafverhoor voortduur, het nog ‘n vrou wat Alexander ook van verkragting beskuldig, Action Society formeel gemagtig om haar deur die strafregtelike proses te ondersteun en toesig oor haar saak te hou.
Die tweede klaer het haar bewerings reeds by die owerhede aangemeld.
Volgens Action Society versterk haar besluit die kommer dat daar moontlik nog slagoffers is wat nog nie na vore getree het nie.
“Hoewel dit uiteindelik die hof is wat oor skuld of onskuld sal beslis, is ons toenemend bekommerd dat die beweerde Paarlse “fotograafverkragter” moontlik ‘n reeks seksuele oortreder kan wees,” het Juanita du Preez, nasionale woordvoerder van Action Society, luidens die verklaring gesê.
Oproep aan moontlike slagoffers
Sy het ‘n beroep gedoen op enigiemand wat glo hulle moontlik ‘n slagoffer van Alexander was om na vore te kom.
“Slagoffers bly dikwels stil weens vrees, skaamte of die trauma om weer deur die gebeure te werk. Hulle moet weet hulle is nie alleen nie. Elke persoon wat na vore kom, help om ‘n duideliker prentjie van die waarheid te vorm, en Action Society sal voortgaan om slagoffers by te staan sodat hul sake die nodige toesig ontvang.”
LEES OOK: ‘Fotograaf-verkragter’ pleit onskuldig in Paarlse hof
Du Preez meen die tweede klaer beklemtoon die belangrikheid daarvan dat slagoffers van seksuele misdrywe hul sake aanmeld, selfs wanneer hulle glo hulle staan alleen.
“Baie reeksmisdadigers word eers geïdentifiseer wanneer slagoffers die moed bymekaarskraap om te praat. As daar nog slagoffers is, kan hul getuienis deurslaggewend wees om geregtigheid te laat geskied. Ons is dit aan elke oorlewende verskuldig om te verseker dat niemand in stilte ly en geen oortreder ongestoord kan voortgaan om ander skade aan te doen nie.”





