SAPS
Twee vermeende seksuele oortreders verskyn tans in die Wellington-landdroshof. Foto: Argief/ Jana Scheepers

WELLINGTON – Twee vermeende seksuele oortreders uit die Drakenstein-vallei, wat daarvan verdink word dat hulle minderjariges seksueel aangerand het, verskyn tans in die Wellington-landdroshof.

Een van die beskuldigdes is ’n 61-jarige man van Riebeek-Kasteel wat op 17 Maart vir die eerste keer in die hof verskyn het. Luidens die klagstaat staan hy tereg op aanklagte van “onwettige en opsetlike ontbloting van sy geslagsdele”, asook op “gedwonge self-seksuele aanranding”.

Die aanklagte val onder Suid-Afrika se Strafreg (seksuele misdrywe en verwante aangeleenthede)-wysigingswet.

Die man is op 15 Maart aangekeer.

Hy word daarvan beskuldig dat hy tussen 2025 en 2026 sy geslagsdele vir ‘n 12-jarige meisie naby die treinspore in Hermon gewys en haar gedwing het om aan sy geslagsdele te vat en hom te masturbeer, luidens die klagstaat.

Die man se volgende hofverskyning is op 21 April, wanneer hy na verwagting om borgtog aansoek sal doen.

Hy word intussen aangehou.

landroshof
Die Wellington-landdroshof in Jan van Riebeeckstraat. FOTO: Jana Scheepers

Dit is nie die eerste keer dat ernstige aanklagte teen die man gebring word nie. Hy is in 2012 vrygespreek op ’n aanklag van die verkragting van ’n 13-jarige meisie, terwyl ’n saak van seksuele aanranding in 2016 deur die klaer teruggetrek is, het ‘n betroubare bron gesê.

Al die sake, insluitend die huidige, is by die Riebeek-Wes-polisie aangemeld.

Die man is na bewering ’n afgetrede korrektiewe beampte, volgens die bron.

In ’n afsonderlike saak staan ’n 37-jarige laerskoolonderwyseres van ’n Paarlse skool tereg op ’n aanklag van verkragting van ’n 15-jarige seun.

Paarl Post het vertroulik verneem dat die verdagte glo die voorval met iemand bespreek het wat die nuus toe by ‘n maatskaplike werker aangemeld het.

Die maatskaplike werker het toe met die minderjarige kontak gemaak wat die voorval bevestig het.

Volgens bewerings het die onderwyseres die minderjarige by ’n woonadres in Wellington genader en hom vir seksuele omgang genooi, soos aangedui op die klagstaat. Die voorval het glo op Valentynsdag in Februarie plaasgevind.

LEES: Wellingtonse pa van 3 vas oor kinderporno

Sy het die eerste keer op 25 Maart in die hof verskyn nadat sy ‘n dag vantevore, op 24 Maart, aangekeer is.

Die beskuldigde, wat in Wellington woon, word aangehou. Haar volgende hofverskyning in die Wellington-landdroshof is op 15 April wanneer sy om borgtog aansoek sal doen, volgens die klagstaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article