WELLINGTON – ’n Bekende en talentvolle plaaslike klubrugbyspeler, verbonde aan ’n prominente Boland-rugbyklub, sal Maandag (4 Mei) in die Wellington-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting, waar hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen.
Volgens inligting tot die koerant se beskikking, het die beweerde verkragting die afgelope naweek plaasgevind. Die omstandighede rondom die voorval is nog vaag, maar betrek glo die rugbyspeler en ’n student, terwyl ‘n vriend van die speler ook aangekla word.
‘n Navraag oor die arrestasie van die twee manne is gerig aan die Wes-Kaapse polisie, en hul name is by die navraag bygevoeg. Sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het terugvoering verskaf en bevestig dat ‘n 23-jarige man en ’n 28-jarige man op Dinsdag (28 April) vir die eerste keer in die Wellington-landdroshhof verskyn het.
“Die saak is uitgestel tot Maandag, 4 Mei, vir ‘n formele borgtogaansoek,” verduidelik Twigg.
Logan Maistry, woordvoerder vir die Departement van Korrektiewe Dienste, het bevestig dat die rugbyspeler tans in die Allandale-gevangenis aangehou word.

Paarl Post het ook navraag gedoen by die klub waarvoor die 23-jarige speler die afgelope naweek op Wellington se sportgronde sou uitdraf.
Die klub se voorsitter het aangedui dat die klub geen kommentaar wil lewer nie en het die koerant na die beskuldigde se regsverteenwoordiger verwys.
LEES OOK: Twee van Drakenstein in hof oor seksuele misdrywe met kinders
Die speler sou na verwagting op Saterdag sy laaste wedstryd vir die betrokke span speel voordat hy na ‘n ander klub sou skuif.
Die name van beide beskuldigdes word voorlopig weerhou totdat hulle in die hof gepleit het.
Die berig is aangepas na gelang van nuwe inligting wat aan die lig gekom het.



