Twaalf huurders van munisipale grond sal nou moet wag om te hoor hoe hul huurooreenkoms moontlik geraak word nadat die nasionale tesourie die Stellenbosch-munisipaliteit ingelig het dié huurooreenkomste voldoen nie aan die nodige beleid nie.
Op die jongste raadsvergadering op Dinsdag 31 Maart het die Stellenbosch-munisipale raad besluit om die status van die in-beginsel-goedkeuring van huurooreenkomste te oorweeg.
Dit omdat die nodige mededingende prosesse nie gevolg is nie. Onder die huurders is die Stellenbosch-vliegveld, die Nuwe Apostoliese kerk in La Motte en die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS).

Die nasionale tesourie in Mei 2025 die munisipaliteit laat weet het dat die voormalige burgemeester Gesie van Deventer en haar burgemeesterskomitee nie by regte was om van hierdie huureenkomste goed te keur nie. Die besluit is nie in die mag van ‘n burgemeester of raadslede nie.
Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Dinsdag bevestig dat hy die potensiële onreëlmatighede met die huurooreenkomste na die provinsiale tesourie asook die provinsiale regsdienste in die kantoor van die premier verwys het. In ‘n verklaring het Bredell gesê indien ernstige wanpraktyke of wanadministrasie geïdentifiseer word, sal ‘n volle ondersoek van stapel gestuur word.
Verkeerde beleid
Die magtiging deur die burgemeester en die burgemeesterskomitee spruit uit ‘n beleid wat in 2022 deur die raad goedgekeur is. Die beleid het bepaal dat die burgemeester, saam met die burgemeesterskomitee, besluite mag neem oor munisipale nie-roerende eiendom. Die tesoruie het uitgewys dat hierdie proses afwyk van ‘n mededingende proses, wat nie ooreenstem met die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur (wet 56 van 2003) nie.
In ‘n skrywe aan Stellenbosch se munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, oor die huurooreenkoms met die Stellenbosch-vliegveld het die tesourie uitgewys dat die munisipaliteit versuim het om regulasie 35, 36 en 45 van die Munisipale Bate-oordragregulasies (MATR) in ag te neem.
Raadsbesluit
Dinsdag het die munisipale raad gestem dat Mettler en burgemeester Jeremy Fasser dringend met die nasionale tesourie moet skakel deur die kantoor van die LUR vir plaaslike regering in die Wes-Kaap; dat met die bystand van die kantoor van die LUR konsultasie met die nasionale tesourie gefasiliteer word; en dat die uitslag van hierdie konsultasie en die pad vorentoe aan die raad voorgelê word.

Rld. Jacobus Davids (ANC) het gesê hoewel die munisipaliteit nou poog om sy fout reg te stel, was die proses onwettig. “Ons kommer is dat in die proses om die fout te korrigeer daar reeds verwagtinge by die huidige huurders geskep is. Dalk het hulle hul reeds tot seker verpligtinge op die grond ingestem wat hulle geld uit die sak gejaag het. Tot watter mate is die munisipaliteit nou kwesbaar vir finansiële kostes? Sal hierdie ook aangepak word tydens die konsultasies met die departement? Ons is nou blootgestel vir eise [teen die munisipaliteit] en hoe gaan ons dit oplos?” wou Davids weet.
Good se Marius van Stade meen daar moet gevolge wees vir die munisipaliteit se fout wat die goedkeuring betref. “Die publiek moet hierdie raad kan vertrou om ingeligte besluite te kan neem wat in lyn is met nasionale wetgewing. Hierdie is ‘n groot, sensitiewe saak,” het Van Stade gemaan.
Rld. Otniel Jooste (ACDP) is deur die speaker, Quinton Smit, geroskam vir sy uitlating dat Van Deventer die raad “omseil” het om die huurooreenkomste goed te keur. Die uitlatings kom onder meer ná ‘n aanlyn “onafhanklike nuus- en meningskoerant” verskeie aantygings teen die munisipaliteit gemaak het. Onder meer dat Van Deventer en verskeie lede van die administrasie gemaak en breek het soos hulle wil met die munisipale geld, bates en ontslae geraak het van sowat 34 amptenare.
Smit het harde woorde vir Jooste gehad. “Alles wat jy gelees en gehoor het oor die aangeleentheid is nonsens,” het hy gesê. Die speaker het bewerings dat inligting weerhou is as onwaar afgemaak en het gesê diegene wat die artikel geskryf het, is welkom om hom te kontak “om die ware feite te kry”.
Die DA het intussen aangedui die party oorweeg regstappe teen die publikasie vir die uitlatings.
| Die betrokk eiendomme |
| • Stellenbosch-vliegveld; • Stellenbosch-perdryklub; • Technopark-parkering; • Happy Folks-parkering; • L’Abri-plek van veiligheid; • Stellenbosch-dierewelsynorganisasie; • Nuwe Apostoliese kerk, La Motte; • U-Turn Ministeries-skuiling; • Mercedes Benz-parkering; • Hanna’s Charity; en • FLX-EV Minibustaxi- elektriese herlaaistasie. |






You must be logged in to post a comment.