Die twee werknemers wat verlede Maandag (10 Junie) in die ontploffing by die pluimveegroep Quantum Foods se plaaslike Nova Voere-aanleg in Bokomoweg, Malmesbury, ernstig beseer is, sterk steeds in die hospitaal aan.
“Hulle bly in ’n ernstige, maar stabiele toestand,” het Quantum Foods by wyse van ’n verklaring op sy webwerf bevestig.
Volgens die maatskappy duur die ondersoek na die presiese oorsaak en impak van die ontploffing voort.
Die plaaslike polisie in Malmesbury het ’n geregtelike ondersoek begin ná die dood van ’n jong man (25) ná die ontploffing.
Sers. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder vir die Malmesbury-polisiekantoor, het vroeër gesê die ontploffing het omstreeks 15:05 dié dag by Nova Voere se plaaslike aanleg plaasgevind. Inligting het aanvanklik gelui drie werkers het ernstige beserings opgedoen en is na hospitale gehaas.
Die polisie het intussen bevestig een van die beseerdes, die 25-jarige Ncebazakhe Tshisa, het dieselfde aand omstreeks 22:50 aan sy beserings beswyk.
Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Weskus-distrik, het ook, by monde van die Swartland-hospitaal se bestuur, die afsterwe van “een van die pasiënte” van die ontploffing bevestig.
“Die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en welstand spreek sy innige simpatie en medelye uit teenoor die familie van die oorledene.”
Die twee ander slagoffers – onderskeidelik 37 en 45 jaar oud – word steeds in die hospitaal behandel. “Die ander twee pasiënte is Dinsdag (11 Junie) in ’n bestendige toestand na die Tygerberg- en Christiaan Barnard-hospitale oorgeplaas,” het Lötter Donderdag bevestig.
Intussen het die Swartland-munisipaliteit in ’n verklaring gesê die ontploffing het in ’n laaisone waar rou materiaal afgelaai word, plaasgevind.
Ondersoek
Die oorsaak word nog ondersoek.
“Skade wat deur die brand veroorsaak is, was minimaal en die beskadigde gebied is afgebaken. Die res van die terrein is veilig verklaar om bedrywighede voort te sit. Die maatskappy het ’n ingenieur gekontrakteer om ’n onafhanklike ondersoek na die voorval te doen en die munisipaliteit sal sy volle samewerking gee waar nodig.”
Die uitvoerende hoof van Quantum Foods, Adel van der Merwe, het Gazette na amptelike verklarings op Quantum Foods en Nova Voere se webwerwe verwys. Volgens die maatskappy sal die nuutste inligting rakende die ontploffing bekend gemaak word sodra die ondersoek afgehandel is.
Die vakbondfederasie Cosatu het intussen ’n verklaring uitgereik waarin hy sê die maatskappy moet verantwoordelik gehou word vir enige nalatige en/of misdadige gedrag wat tot die tragiese voorval gelei het.
“Motlatsi Tsubane, die provinsiale voorsitter van Cosatu, het aan die Gazette bevestig hul kantoor het met die departement van indiensneming en arbeid en die beroepsbeserings- en vergoedingsfonds in verbinding getree om seker te maak geregtigheid geskied en dat die nodige verligting wat die beseerde werkers en die familie van die oorledene toekom, bespoedig word soos deur die wet vereis.
“Ons is gewalg in die manier hoe die maatskappye gesondheids- en veiligheidsmaatreëls toepas. Daarom doen ons ’n beroep op ’n deeglike ondersoek deur die departement sodat die skuldige partye verantwoordelik gehou kan word,” het Tsubane verduidelik. Volgens hom doen Cosatu verder ’n beroep op die betrokke maatskappy om die nodige ondersteuning aan die familie van die oorledene, wat nou ’n inkomste kwyt is, asook dié van die beseerde werkers te verleen. Quantum Foods het in die verklaring bevestig hy sal voortgaan om die nodige ondersteuning aan die betrokke individue en families gedurende die moeilike tyd te gee.
Cosatu gaan vandag weer met die departement in verbinding tree sodat die voorval voorkeur kan geniet.



