Ware verhale van amper onmoontlike gebeure herinner ’n mens baie vinnig aan die gesegde dat feite waarlik vreemder as fiksie is.
Kyk gerus na die maniere waarop Fidel Castro se vyande oorweeg het om sy lewe te beëindig – plofstof onder sy stoel en onder die podium waar hy ’n toespraak sou gee; plofstof, gif of LSD in sy sigare; gif in sy pen of in sy melkskommels. Daar was glo 634 pogings om sy lewe te beëindig. So sou die Hongaarse ontsnappingskunstenaar Harry Houdini dalk veel ouer as 52 jaar geword het as hy net soms ’n huisdokter wou besoek.
Sewe en ’n half uur ná Albert Einstein se dood in ’n Amerikaanse hospitaal in 1955, het ’n patoloog sy brein gesteel.
Dr. Thomas Harvey het die brein bewaar en wetenskaplik ondersoek om die oorsake van sy besondere intellek te bepaal.
Hoewel Einstein voor sy dood hierdie soort navorsing ten strengste verbied het, het Harvey die onvergeeflike gedoen en die brein in 240 stukkies versnipper en mildelik uitgedeel – of het hy dit dalk verkoop?
Al ooit gehoor van ’n CPR-dummy? Die eerste gesigpop wat in die 1960’s gemaak is om studente op te lei vir lewensreddende resussitasie, behoort in werklikheid aan ’n 19de eeuse tienermeisie wat volgens oorlewering in Parys verdrink het. Niemand het haar liggaam opgeëis nie. ’n Dokter wat ’n lykskouing op ’n ander liggaam moes doen, was so getref deur die serene uitdrukking op haar gesig, dat hy ’n gipsafdruk daarvan gemaak het. Dit het as ’n kunswerk bekend geraak as ‘die onbekende vrou van die Seine’. Jare later het hierdie onbekende vrou bekendheid verwerf as ‘die mees gesoende meisie ter wêreld’.
In 2006 haak ’n Filippynse visserman se anker aan iets vas. Hy duik in om dit los te wikkel en vind toe ’n mooie stuk wit rots. Hy bêre dit onder sy bed en tien jaar lank gebruik hy hierdie 67 cm lange klip as gelukbringer deur dit soggens voordat hy op sy boot uitgaan, tussen sy handpalms te vryf. Hy glo hierdie handeling sal ’n goeie vangs verseker. Toe hy hierdie 34-kg-gelukbringer in 2016 by sy dorp se toerismekantoor indra, is die regte kanale gevolg om die waarde van hierdie pêrel vas te stel: Dit is meer as R1,9 miljard (100 miljoen dollar) werd en word deesdae in ’n museum uitgestal.
In 2017 het dit bekend geraak dat koning Willem Alexander van Nederland inderwaarheid ook ’n vlieënier vir KLM-vlugte is.
Hedendaagse mense – veral koerantlesers – behoort lekker fiks te wees met die aanhoor van rare waarhede.
Die afgelope naweek het ’n raarheid waarheid geraak toe Australië – een van die topspanne in die T-20-Wêreldbekerkrieketkragmeting, onverwags die knie moes buig voor die skynbaar onbenullige manspan van Afghanistan.
En die lekkerste raarheid vir Swartlanders? Natuurlik toe die Malmesbury-“missiel”, Pieter-Steph du Toit, verlede Saterdag die Springbokke op Twickenham tot ’n ordentlike oorwinning van 41-13 oor Wallis gelei het.





