Die wag is verby.
Die PPC Riebeek-bergmarathon is reg vir aksie en keer ná drie jaar terug na die prentjiemooi Riebeek-vallei.
Die gewilde bergmarathon, wat vanjaar die 35ste jaar plaasvind, is om die draai en word op 29 Julie beslis.
PPC, wat vanjaar sy 131ste bestaansjaar vier en reeds dekades lank dié gunstelinggeleentheid na die vallei bring, kan nie wag om deelnemers terug te verwelkom nie.
PPC is ’n groot voorstander vir plaaslike ondersteuning en maak glad nie ’n geheim daarvan nie. “Ons streef na gemeenskapsbetrokkenheid en plaaslike ondersteuning, omdat ons vasbeslote is om terug te gee aan inwoners van elke gemeenskap waarin ons werk,” lui ’n verklaring.
Die PPC Riebeek-bergmarathon nooi atlete, gesinne en families om weg te breek van die stad se gewoel en die rustige en vriendelike platteland te kom ervaar en geniet.
Dié bergmarathon, wat ook as ’n kwalifiserende marathon vir die jaarlikse Twee Oseane-marathon is, bied ’n geleentheid vir die hele gesin. Ervare atlete kan die 42,2 km- of die 21,1 km-roetes aandurf, terwyl die beginners of minder ervare drawwers die meer ontspannende 10 km- en 5 km-pretdraf/staproetes kan kom geniet.
Die PPC Riebeek-bergmarathon is trots daarop om jaarliks atlete, families, vriende en plaaslike inwoners byeen te bring deur ’n geleentheid te bied waaraan almal kan deelneem.
Deelnemers en besoekers kan gedurende die dag ook die plaaslike mark, winkels en besienswaardighede besoek, terwyl Goodhope FM, wat regstreeks van die perseel af gaan uitsaai, in die agtergrond gehoor sal kan word.
Die Riebeek-bergmarathon begin en eindig vanjaar by die PPC Riebeek-aanleg se perseel in Riebeek-Wes.
Volgens ’n voormalige werknemer van PPC, Sherwin Solomon, is hulle opgewonde dat PPC jaarliks daarin slaag om die plaaslike gemeenskap te ondersteun en honderde deelnemers na die vallei te lok.
Sowat 500 inskrywings is reeds vir vanjaar se geleentheid ontvang.. Om in te skryf, gaan na www.peaktiming.co.za of besoek die webblad www.ppc.africa vir nog inligting.




