Die PPC Riebeek-bergmarathon is reg vir aksie en keer vanjaar weer terug na die prentjiemooi Riebeek-vallei.
Die gewilde bergmarathon, wat vanjaar die 36ste keer plaasvind, word op Saterdag 17 Augustus beslis.
PPC, wat vanjaar sy 132ste bestaansjaar vier en reeds dekades lank hierdie gunstelinggeleentheid na die vallei bring, sê hy kan nie meer wag om deelnemers terug te verwelkom nie.
PPC is ’n groot voorstander van plaaslike ondersteuning en maak glad nie ’n geheim daarvan nie.
Die PPC Riebeek-bergmarathon nooi atlete, gesinne en families om weg te breek van die stad se gewoel en die rustige en vriendelike platteland te kom ervaar en te geniet.
Dié bergmarathon, wat ook ’n kwalifiserende marathon vir die jaarlikse Twee Oseane-marathon is, bied ’n geleentheid vir die hele gesin.
Ervare atlete kan die 42,2 km- of die 21,1 km-roetes aandurf, terwyl die beginners of minder ervare drawwers die meer ontspannende 10 km- en 5 km-pretdraf / staproetes kan kom geniet.
Die PPC Riebeek-bergmarathon is trots daarop om jaarliks atlete, gesinne en families, vriende en plaaslike inwoners byeen te bring deur ’n geleentheid te bied waaraan almal kan deelneem.
Deelnemers en besoekers kan gedurende die dag ook die plaaslike mark, winkels en besienswaardighede besoek.
Die 42,2 km spring om 07:30 weg, die 21 km om 08:00, die 10 km om 08:30 en die 5 km om 08:45. . Om in te skryf, besoek die webblad www.peaktiming.co.za of www.ppc.africa vir nog inligting.
Inskrywings sluit op 8 Augustus; geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.




