Michael Beattie (30), die pa van ‘n vyfjarige dogtertjie en ‘n maand oue babaseuntjie, is die afgelope naweek skielik uit hul lewens geruk nadat hy in ‘n enkelvoertuigvoorval op die R45 verongeluk het.
Die polisie is Saterdag 10 Oktober omstreeks 01:20 na die toneel buite Malmesbury ontbied.
Volgens die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Wesley Twigg word die presiese omstandighede rakende die voorval ondersoek. “Ons kan in hierdie stadium bevestig dat geen ander voertuie by die voorval betrokke was nie. Die bestuurder van die voertuig is op die toneel deur nooddienspersoneel dood verklaar.”
Volgens inligting was Beattie van die Paarl na Malmesbury onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Beattie was ‘n tegniese bestuurder by Cubix Solutions in die Paarl, waar hy druk besig was met die voorbereiding vir die komende druiweseisoen.
Sy vrou Jeanne sê hy was die held van hul gesin.
“Jy was ons rots, ons krag en die hart van ons huis.”
“Nou moet ons leer om aan te gaan in ‘n wêreld waarin ons jou stem nie meer kan hoor nie, jou arms nie meer om ons kan vou nie en ons nie meer na jou toe kan draai wanneer ons jou die nodigste het nie. Jy sal vir altyd ons held bly – ons veilige plek, ons liefde en ons grootste gemis.
“Altyd lief vir jou.”

Michael laat sy vrou, hul dogter Milene en babaseun Lehan agter.
Sy ma, Sally Da Silva, beskryf haar seun se skielike dood as hartverskeurend. “Aan my geliefde seun. My hart is gebreek in maniere wat woorde nooit sal kan beskryf nie. Om jou so skielik te verloor, laat ‘n pyn wat ek nie in woorde kan omsit nie. Een oomblik was jy daar en nou word ek agtergelaat met herinneringe en ‘n leeftyd se gemis,” het sy gesê.
“My bababoetie; my eie persoonlike bodyguard.” Dít is hoe een van sy ouer susters, Nicky Cronje, haar man, Joe, en hul kinders Miané en Cara-Lee hom altyd sal onthou. “Woorde kan nie die pyn in my hart beskryf nie. Die seer van jou verlies is onbeskryflik. Tyd is nooit genoeg nie, maar ek is so dankbaar vir die 30 jaar wat die Here jou vir ons geleen het. Jy sal vir altyd my stoutgat-boetie wees. Ek het jou so ongelooflik baie lief. Jy is vir altyd in ons harte.”
Sy oudste suster, Bianca Els, haar man, Johan, en hul vier kinders meen woorde is min. “Jy was nie net my broer nie, maar ook ‘n deel van my hart, my herinneringe en my lewe. Die plek wat jy agterlaat, sal nooit deur iemand anders gevul kan word nie. Rus sag, my liefste boetie. Jy sal vir altyd gemis en liefgehê word.”
Michael se twee swaers en twee skoonsusters – CJ, Ike, Enja en Olga – sal hom onthou vir die hardwerkende, trots en familie-georiënteerde man wat hy was. “Jy het groot voetspore in ons lewens gelos – en herinneringe wat ons altyd sal koester. Jou plek is leeg, maar die herinneringe sal altyd by ons bly.
Familiekuiers gaan nie dieselfde wees sonder jou nie. Jy was altyd die een wat almal laat lag het en die lewe in elke kuier gebring het.”
Sy tannie Lilly vertel: “Van die oomblik wat jy gebore is – van ‘n klein seuntjie tot ‘n groot man – het jy hierdie tanniehart so trots gemaak. Jy was die beste boetie vir jou susters, beste seun vir jou ouers en die beste man en pa vir jou gesin. My hart is in duisend stukkies en ek glo nie dit gaan ooit weer heel word nie. Ek gaan jou boodskappies en stywe drukkies nooit weer voel en hoor nie en dit breek my hart. Jou oom Lewis en Oom Frans gaan jou mis, my kind. Ons is en sal altyd baie lief wees vir jou. Rus in vrede.”
Reëlings rakende die troosdiens en begrafnis sal later deur die familie bekendgemaak word.
Die polisie het ‘n vriendelike versoek aan die publiek gerig om met enige inligting rakende die ongeluk na vore te kom en Crime Stop by 08600 10111 te kontak of die mobiele toepassing, MySAPS, te gebruik.





You must be logged in to post a comment.