Die Malmesbury-trouktrekklub het sy merk by vanjaar se wêreldtoutrekkampioenskap, wat op 16 September in Hartenbos afgeskop het, gemaak.
Dié plaaslike toutrekklub se 500kg-o.23-vrouespan het uiteindelik vierde geëindig nadat hulle vir die bronsmedalje teen die toutrekklub van Melton, Mowbray, in Engeland in hul afdeling vasgeval het. Hulle is amptelik ook tweede in Suid-Afrika met die nasionale vroue-Springbokspan, wat die nommer-een-posisie beklee.
Die span se deelname en prestasie word egter gekenmerk as ‘n reusemylpaal met meer as 1 200 atlete uit 16 lande wat teen mekaar meegeding het.
Buiten Suid-Afrika sluit dié lande die Baskeland-streek in die suide van Europe, China, Duitsland, Italië, Nederland, Skotland, die Chinese Taipei, België, Engeland, Ierland, Litaue, Pakistan, Switserland en Zimbabwe in. Wat hul prestasie nog meer besonders maak, is die feit dat dié klub die enigste suiwer klub is wat deurgegaan het na ‘n vierde plek op die wêreldranglys, sê Rentia van den Berg, die voorsitter van die Malmesbury-toutrekklub.
LEES OOK: HTS Drostdy 560 kg‑Toutrekspan gekroon as Wêreldkampioene
Van den Berg verduidelik dit is meestal skoolleerders wat in ‘n senior seisoen gaan deelneem het. Hoewel hulle ‘n jong groepie is, kom van die spanlede al vir agt jaar saam nadat hulle destyds as graad 8-leerders vir hul skool begin toutrek het.
Die wêreldkampioenskap het met ‘n ope-kampioenskap begin, waar toutrekklubs van reg oor die wêreld teen mekaar meegeding het, gevolg deur die wêreldkampioenskap, waar lande se nasionale spanne om die wêreldkampioenkroon tougetrek het.
Die 500kg- senior vrouespan én die 560kg- mansspan van die Malmesbury-toutrekklub het ook aan die wêreldklubkampioenskap deelgeneem. Hoewel hulle nie vir ‘n plasing gekwalifiseer het nie, het hulle waardevolle ervaring opgedoen.
Yvonne Bester, ‘n spanlid van die 500kg- o.23-vrouespan, meen hul deelname het oor veel meer as bloot ‘n medalje gegaan. “Jy leer verskriklik baie by die deelnemers van ander lande. Elke span het sy eie trekstyl en elke land sy eie tegniek. Jy dink jy weet baie totdat jy daar kom.” Sy vertel hoe dié span al vir jare saam oefen en hard werk, wat dié prestasie nog meer spesiaal maak.

Baie ure is ingesit ter voorbereiding van die wêreldkampioenskap, waar Malmesbury teen vyf ander klubs meegeding het.
“Jy werk hard as ‘n klub en sit al daardie ure in om jou klub te verteenwoordig, maar ook jou land.” Dit was vir haar veral mooi om te sien hoe atlete van reg oor die wêreld met soveel passie en trots deelneem. “Die deelnemers het hul harte op daardie veld gelaat.”
Volgens haar was dit ‘n groot leerskool – nie net fisiek nie, maar op ‘n emosionele vlak ook.
Van der Berg voeg by die geleentheid sou niks gewees het sonder al die plaaslike borge nie en is dankbaar vir elke inwoner en onderneming wat bankvas agter die klub gestaan en die geleentheid moontlik gemaak het.






You must be logged in to post a comment.