Die missiel van Malmesbury, beter bekend as Pieter-Steph du Toit, het die Springbokke as kaptein op 22 Junie na ’n sege teen Wallis op Twickenham in Londen gelei.
Die Springbokke se rugbyseisoen het op ’n hoë noot afgeskop met ’n oorwinning van 41-13.
Vir Du Toit, ’n boorling van die Swartland, was dié toetswedstryd besonders spesiaal nadat hy op 9 November 2013 as 21-jarige sy buiging vir die Springbokke in Cardiff teen Wallis gemaak het. Hy is op 2 Junie 2018 eenmalig as die kaptein vir die toetswedstryd teen Wallis aangewys.
Hoewel Du Toit dit as ’n massiewe eer en voorreg beskryf om die span se kaptein te kon wees, het hy gedurende ’n nuuskonferensie kort voor die wedstryd vertel dat die kapteinskap self egter irrelevant is. “Dit het ’n posbeskrywing en die posbeskrywing is kommunikasie tussen die spelers en die skeidsregter. Binne die span het elkeen ’n spesifieke rol om te vervul en dit is jou verantwoordelikheid op die veld om seker te maak dat daardie aspek van die spel uitgevoer word,” verduidelik hy nederig.
Volgens Du Toit, oudleerder van die Hoërskool Swartland, het hy ’n spesiale band met Wallis en beskryf dit as persoonlik vir hom omdat hy in 2013 tydens sy eerste wedstryd teen hulle sy dybeen beseer het. Hy het ook die toets teen Wallis as spesiaal beskryf in terme van die respek wat hulle as spanlede vir mekaar het en die manier waarop hulle speel.
Du Toit, wat teen die hange van Kasteelberg grootgeword het, het ná va die toetswedstryd gesê hy het baie van homself en sy rol as kaptein in terme van wat sy persoonlike verantwoordelikheid teenoor die span is, geleer.
“Die druk is altyd daar om te wen wanneer jy jou Springboktrui aantrek,” het hy by navraag gesê. Volgens hom word daar nie ’n verwagting deur die afrigters of die voormalige kapteins geskep nie. “Hulle verwag dat jy net jouself moet wees. As ek voel dat ek iets op die hart het wat nodig is om gesê te word, sal ek dit definitief sê. En as ek voel die boodskap is oorgedra, is dit nie nodig om dit te herhaal en tyd te mors op een aspek van die spel nie,” brei hy uit.
Dit is vir hom belangrik dat die span momentum bou en gereeld onder die topdrie van die wêreldranglys te bly, eerder as slegs kapteinskap. “As ons daar kan bly, doen ons iets reg en bly mededingend – en om jong ouens in die span in te bring. As ons dit kan doen, sal SA rugby en die Springbokke tot die volgende Wêreldbeker op ’n goeie voet wees.”
Du Toit se persoonlike doelwit is om onder meer elke wedstryd sy beste te speel – alles te gee wat hy kan – en om daar te wees vir die span.. Die Castle Lager Incoming-reeks skop komende Saterdag (6 Julie) met die eerste van twee toetse teen Ierland af, gevolg deur ’n eenmalige toets teen Portugal.




