Die oudste lewende Springbok, Des van Jaarsveldt, is oorlede.
Die oudste lewende Springbok, Des van Jaarsveldt, is gister (21 Julie) op die ouderdom van 96 oorlede.

Mark Alexander, President van SA Rugby, het Maandag hulde gebring aan voormalige Springbok-kaptein en flank Des van Jaarsveldt, wat vroeër die dag op die ouderdom van 96 jaar oorlede is.

Desmond Charles van Jaarsveldt was die oudste lewende Springbok en het sy merkwaardige rugby loopbaan in 1947 op die ouderdom van slegs 18 jaar begin toe hy sy debuut vir Rhodesië (Zimbabwe) in die Curriebeker gemaak het.

Gebore op 31 Maart 1929 in Bulawayo, Zimbabwe (destydse Suid-Rhodesië), het Van Jaarsveldt ‘n uitstaande provinsiale loopbaan gehad waarin hy 62 wedstryde vir Rhodesië van 1947 tot 1962 gespeel het en 17 drieë gedruk het. Hy het die span 19 keer tussen 1958 en 1962 aangevoer, wat destyds ‘n rekord was.

Van Jaarsveldt, wat bekendgestaan het as die “Bald Eagle” weens sy spoed en kenmerkende voorkoms, het sy skoolopleiding by Milton Junior en Plumtree Skole in Bulawayo ontvang. Na skool het hy vir BAC gespeel en die grootste gedeelte van sy klublooópbaan by Old Miltonians deurgebring.

Ondanks sy uitstaande prestasies het politieke druk van Afrikaner nasionalistiese groepe aanvanklik verhoed dat hy vir die Springbokke gekies word, ten spyte daarvan dat hy in 1951 en 1956 vir Springbok-toetse opgedaag het. Dit was destyds polities onaanvaarbaar vir die regerende Nasionale Party dat ‘n Rhodesiër die span sou lei.

Die ontslape Des van Jaarsveldt (regs) is hier saam met oud-Springbok, Jean de Villiers.

Die deurbraak het gekom in 1960 toe Van Jaarsveldt op 31-jarige ouderdom nie net vir die Springbokke gekies is nie, maar ook as kaptein aangewys is – die eerste Rhodesiër wat hierdie eer te beurt geval het. Sy enigste toetswedstryd was teen Skotland op 30 April 1960 by die voormalige Boet Erasmus-stadion in Gqeberha, waar hy die Springbokke na ‘n 18-10 oorwinning gelei het en self ‘n drie gedruk het.

Hierdie aanstelling was polities betekenisvol aangesien dit vorige versperrings deurbreek het waar ander getalenteerde Rhodesiërs soos John Morkel kapteinskap geweier is ondanks sterk prestasies teen internasionale spanne soos Nieu-Seeland.

Van Jaarsveldt het nege internasionale wedstryde vir Rhodesië gespeel – meer as enige ander speler van sy tyd. Hy het in 1962 van provinsiale rugby afgetree nadat hy sy span na ‘n oorwinning oor North Eastern Districts gelei het, maar het voortgegaan om klublugby te speel tot hy in 1967 heeltemal afgetree het na twee dekades op senior vlak.

Na sy spelersloopbaan het Van Jaarsveldt betrokke gebly by rugby as ‘n afrigter en administrateur, en hy was ook betrokke by die Suid-Afrikaanse Rugby Legendes Vereniging (SARLA). Hy het voortgegaan om tot sport in sy geboorteland Zimbabwe by te dra tydens die land se oorgang van koloniale bewind.

“Des sal nie net onthou word as die oudste lewende Springbok in die laaste aantal jare nie, maar hy was ‘n leier met ‘n diep liefde vir die spel wat ‘n wonderlike nalatenskap agterlaat,” het Alexander gesê.

“Hy sal nie net vir sy prestasies op die rugbyveld onthou word nie, maar Des was ook ‘n bekwame bokser en atleet, en was toegewy daaraan om sport in sy geboorteland Zimbabwe te help en terug te gee.

“Namens die Suid-Afrikaanse rugbyfamilie wil ek sy nalatenskap as ‘n voormalige nasionale kaptein en iemand wat terug in ons geliefde spel geploeg het, eer, en ek wil ons innige meegevoel aan sy familie, vriende en geliefdes in hierdie baie hartseer en moeilike tyd uitspreek.”

Legendariese oud-Springbok Frik du Preez, is nou op die ouderdom van 89 die oudste oorlewende Springbok.

Bronne: www.thesouthafrican.com; www.oldmiltonins.com; rhodesiansportprofiles.blogspot.com

You need to be Logged In to leave a comment.