Die vraag word dikwels gevra tot watter mate ’n mens moet droom en watter maatreëls jy moet instel om jou drome te verwesenlik.
Ek glo gewis daaraan dat ’n mens groot moet droom. Om daardie drome te laat realiseer, glo ek verder dat die ideale kultuur en omgewing geskep moet word sodat iemand nie net drome kan droom nie, maar ook die geleenthede benut om die nodige vaardighede te ontwikkel sodat drome bewaarheid kan word.
Vir my is daardie omgewing Hoërskool Swartland, my tuiste vir die laaste vyf jaar, en waar my rugbydrome waar geword het. Iemand het die volgende gesê oor drome: “Dreams don’t work unless you do.”
In 2020 het dit gevoel of my rugbydrome aan’t skerwe lê toe Covid ons met ’n rooikaart van die veld af gejaag het. Nou is ons baie dankbaar dat alles redelik na normaal teruggekeer het en dat ons die voorreg het om in 2022 aan Interskole te kan deelneem.
Baie dankie aan Hugenote, wat die dag vir ons aanbied. Vir my spanmaats, mede-Rockies, afrigters en ondersteuners wil ek net die beste toewens vir die dag. Laat sportmanskap seëvier.
Ons rus by die huis. – Steph Zeelie, o.19A-rugbykaptein




