Die Darlingboys by hul eerste optrede as ’n kletsrymgroep. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

’n Kletsrymgroep van Darling het pas hul eerste groot deurbraak ná sewe jaar gehad, vertel Jerome Spiers (30) van die groep Darlingboys.

Die vriende, wat ’n liefde vir musiek deel, het hul groep in 2016 gestig. Sedertdien is liedjies geskryf en musiek gemaak met slegs ’n enkele tweedehandse skootrekenaar en ’n ou mikrofoon.

“Nie almal van ons het destyds gewerk nie, so die musiek het ons maar besig en uit die moeilikheid gehou,” vertel Spiers met verwysing na die moord, verkragting en bendegeweld wat maar net van die uitdagings is wat Darling daagliks teister.

Hy sê van die terugslae wat die groep moes deurmaak, was ook Covid-19, wat sy tol geëis het. “Baie van ons het ook intussen pa geword, wat sy eie uitdagings inhou.”

Sommige lede van die musiekgroep het op hul beurt ook afgedwaal, maar weer op die regte pad gekom, voeg Spiers met dankbaarheid by.

Dit het deur die sewe jaar sedert hul bestaan hul droom gebly om vertonings te doen en jong mense te inspireer om te doen waarvoor hulle lief is.

“Dit maak nie saak wat jou omstandighede is nie. Jy kan daarby uitkom deur hard te werk en in jou drome te bly glo,” sê hy hoopvol nadat Darlingboys onlangs hul heel eerste amptelike optrede gehad het.

Hulle was deur ’n groot firma genader om by ’n geleentheid op te tree danksy ’n vriend wat nie die geleentheid kon bywoon nie en hulle gevra het vir hom in te staan. “Ons het ons eerste betaling vir ’n vertoning ontvang!” Jason Philander het ook aangebied om hulle al die pad van Darling te neem, wat ’n groot bonus was. “Mense het in ons geglo en die geleentheid is vir ons gegee om ons musiek vir die eerste keer aan ’n gehoor ten toon te stel,” sê Spiers. Niemand het regtig voorheen hul musiek gehoor nie en niemand gee hulle leiding nie. “Ons het maar net voortgegaan en musiek gemaak.”

Spiers erken die groep is nog glad nie waar hulle wil wees nie. Hulle benodig goeie toerusting, soos beligting, instrumente, mikrofone en monitors, om net ’n paar te noem. Vir nou oefen hulle in ’n houthuisie in Darling wanneer hulle tyd het, maar opgee was nog nooit ’n opsie vir die ‘boys’ van Darling nie.

Vir nou hoop hulle om meer optredes te begin doen, al is dit net om aan jong mense te wys dat hulle ongeag hul omstandighede moet aanhou werk vir daardie droom en nooit ophou glo nie.

“Dit sal waar word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article