Ek droom ‘n droom van ‘n outehuis in Malmesbury waar vrede heers – ‘n plek waar inwoners en personeel floreer sonder ernstige aanmanings dat hulle moet swyg oor die onverkwiklikhede wat tans daar heers.

Ek droom die senior bestuurslede sal besef hoe belangrik dit is om openlik te kommunikeer met ‘n gemeenskap wat vir die tehuis en sy inwoners omgee.

Ek droom ‘n droom dat hierdie bestuur- span, wat in die middel van omstredenheid oor hierdie outehuis staan, bewustelik sal kies om vredeshande uit te steek en gesprek te voer met skenkers en vrywilligers wat reeds jare lank die tehuis tot ‘n selfstandige entiteit help ontwikkel het – Aandskemering-tehuis vir bejaardes, waar inwoners gekoester gevoel het.

Dié tehuis waar skole, vroue- en kerkgroepe, diensorganisasies soos die Lions en ander kundiges die inwoners gereeld bederf het met konserte, braaivleis-etes, bederf-tees en lente- en valentynsdagvieringe; waar ‘n kundige vrywilliger in haar vrye tyd stoelgim-oefeninge vir inwoners aangebied het. Selfs 93-jariges het dit geniet – en laggend gespog oor hul stywe beenspiere (ongelukkig ook verlede tyd).

Ek droom ‘n pessimistiese droom dat ‘n mens die horlosie kan terugdraai, want dan sou die onlangse matrone nie in November sonder mondelinge of skriftelike kennisgewings geskors word nie. As ‘n mens die horlosie kon terugdraai, sou hoofbestuurslede daaraan gedink het om veranderde beleide openlik en deursigtig met Aandskemering se vriende en -komiteelede te kommunikeer. Dan sou die vredesvlag vrolik gewapper het en agterdog, rusies en tweespalt sou nie ontwikkel het nie. Niemand sou vermoed het notules word beweerdelik gemanipuleer om sekere doelstellings te bereik nie.

Met die horlosie-terugdraai-aksie sou ‘n skenker nie sy R700 000-skenking teruggetrek het nie; die uitstekende instelling van ‘borg ‘n bejaarde’ sou steeds bestaan het; en voorheen getroue skenkers sou hul goedgesindheid behou het. Waarom ‘n ingesteldheid handhaaf wat vrywilligers en skenkers vervreem?

Ek droom ‘n dapper droom dat senior bestuurslede hierdie turksvy met respek sal bepeins en ‘n wit vlag sal aanbied– ‘n hand van vrede en openhartige onderhandelinge met Malmesbury se mense sodat almal kans kry om onsekerhede uit te sorteer.

My droom respekteer die feit dat die organisasie op grondvlak steeds wonderlike dienste vir hul kliënte lewer, maar op topbestuursvlak sal deelnemers hopelik terugdelf na die organisasie se stigtingsdoelwitte: Vroue wat mekaar wou ophelp ná die vernietigende uitwerking van die
Vryheidsoorlog met hoofsaaklik maatskaplike en beskermingsdienste aan kinders en bejaardes.

Is dit ‘n futiele droom dat die verskillende groepe saamwerk met een gemeenskaplike doel – omgeedienste aan die weerloses van die samelewing?

Hoewel alle drome nie waar raak nie, droom ek ‘n dringende droom dat hierdie dorpstameletjie spoedig met inskiklike harte en vredige samesprekings uitgestryk sal word.

Op watter ander manier sal ons volgende jaar die ACVV se 120ste jaar in Malmesbury kan vier?

• Geskryf in die idioom van Martin Luther King, die Baptiste-predikant se ‘I have a dream’-toespraak in 1963 in Washington in sy soeke na respek en gelyke geleenthede vir alle Amerikaners.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article