Die gimnaste van die Malmesbury-gimnastiekklub het onlangs (Vrydag 8 en Saterdag 9 September) ’n noemenswaardige prestasie by die Wes-Kaap-kampioenskap behaal.
Al 20 gimnaste van die klub het hulself in ’n indrukwekkende vertoning gekwalifiseer om die Wes-Kaap by die nasionale kampioenskap, wat op 6 en 7 Oktober in Gauteng plaasvind, te verteenwoordig.
Volgens Marno Crafford van die klub is hierdie buitengewone prestasie ’n bewys van die toewyding en harde werk wat deur hierdie jong gimnaste en hul afrigters gelewer word.
“Hulle het nie net die aandag van die plaaslike gemeenskap getrek nie, maar ook ’n besonderse eer aan Malmesbury gebring. Die nasionale kampioenskap in Gauteng is ’n geleentheid vir hierdie talentvolle gimnaste om hul vaardighede te wys en die Wes-Kaap met trots te verteenwoordig. Ons wens hulle baie geluk met die prestasie en stuur die beste wense saam met hulle na hierdie belangrike kompetisie.”





