Plaaslike gimnaste van die Malmesbury-gimnastiekklub het die afgelope skoolvakansie die nasionale podium met ongelooflike vertonings betree.

Só vertel hul afrigter Marno Crafford na afloop van die Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioenskap.

Altesaam 20 gimnaste van die plaaslike klub het die nasionale kampioenskap, naamlik die Gym Games 2023, by die Matsportsentrum in Centurion, Gauteng verteenwoordig en deelgeneem. “Dit was ’n besonderse geleentheid waar almal hard gewerk het om die beste in die land te verteenwoordig,” voeg hy by.

Die podiumplekke het die glans van die Malmesbury-gimnastiekspan weerspieël. Sunelle de Bruyn, Lize-Mari van Aarde en Mali van Wyk (vlak 6, o.14) het die derde plek in hul betrokke afdeling behaal, terwyl Antwan Dicks en Lijané van Wyk (vlak 6; pare; o.14) ’n indrukwekkende tweede plek met hul vertoning verower het. Aman Ndaba en April Williams (vlak 5, gemengde paar o.11) het ook ’n verdienstelike tweede plek bereik, wat volgens Crafford getuig van hul harde werk en toewyding.

Die Malmesbury-gimnastiekklub bedank Flynet vir sy finansiële ondersteuning asook almal wat met hul geldinsameling gehelp het.

“Dit is duidelik dat die sukses van die gimnaste nie moontlik sou wees sonder die steun van die gemeenskap nie. Ons is trots op hierdie prestasie en sien uit na wat die toekoms vir Malmesbury Gimnastiek sal bring. Baie geluk aan al die gimnaste,” voeg hy trots by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article