Blake Kruger (9), ’n Graad-3 leerder van Leories Akademie, gaan eersdaags die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioenskap in Pretoria deelneem.
Blake het sowat twee jaar gelede by die Moorreesburg-gimnastiekklub aangesluit, waarna hy vinnig deur die vlakke geklim het om vir die nasionale kompetisie te kwalifiseer.
Hy gaan saam met Marné van Schalkwyk (19), wat sedert ’n baie jong ouderdom ’n lid van die klub is.
Van Schalkwyk, ’n onderwysassistent by die Christelike Privaatskool in Malmesbury, is ook die assistentafrigter by die klub, waar sy altesaam nege gimnaste gehelp het om medaljes by vanjaar se WP-kampioenskap by die Eversdal-gimnastiekklub te wen. Die WP-kampioenskap het sowat twee weke gelede plaasgevind, waartydens Blake en Van Schalkwyk daarin geslaag het om tot die SA’s deur te dring. Hulle het ook vir die gesogte Eurotramp-kompetisie, wat springmatte insluit, gekwalifiseer.
Van Schalkwyk was reeds ’n paar keer na die SA gimnastiekkampioenskap onder leiding van hul hoofafrigter, Tinus van Schalkwyk.
Volgens Blake se ma, Lornette, is almal baie trots op elke lid van die klub wat op selfsaamgestelde apparate oefen en in kompetisies presteer.
Die nasionale kampioenskap vind van 26 September af plaas, waartydens gimnaste gaan woeker om genoeg geld in te samel om die twee gimnaste by die SA’s te kry.
Lornette sê gimnaste moet self hul kostes dek, wat onder meer vervoer, verblyf en spesifieke kleredrag vir die kampioenskapsaamtrek insluit.





