Die Swartland-munisipaliteit het die geleentheid met ope arms verwelkom toe hy vroeër vanjaar deur die organisasie Kiez Landesverband in Sachsen Anhalt, Duitsland, genooi is om ‘n opvoedkundige kamp (Kiez Duitsland-kamp) van 12 tot 23 Julie in Quedlenburg by te woon.
Altesaam 10 plaaslike hoërskoolleerders is ná verskeie onderhoude deur die munisipaliteit gekies om die toer as verteenwoordigers van die Swartland saam met hulle mee te maak. Die groep leerders – tussen 14 en 16 jaar oud – is onder meer van die Hoërskool Swartland, Schoonspruit Sekondêr en Wesbank Sekondêr in Malmesbury en New Moorreesburg High en die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg.
Twee verteenwoordigers – Ilse Loock van die munisipaliteit en Chrizelda van Reenen (Absa), wat ook by die jaarlikse Sondeza-leierskapkamp betrokke is, sal die groep vergesel.
Hierdie besoek word deur Kiez Landesverband en die Swartland-munisipaliteit moontlik gemaak.
Verskeie dorpe, museums en besienswaardighede sal besoek word. Die kamp word ook deur jeugdiges van Vietnam en Latvia bygewoon.
Die doel van die kamp is om groter wêreldinsig en verdraagsaamheid tussen verskillende kulture aan te moedig, leierskap te ontwikkel, leerders se visie te verbreed en die gevoel van verantwoordelikheid van die onmiddellike omgewing tot dié van die wêreld te vergroot. Bywoning sal ook die visie vir program-inhoud van die jaarlikse Sondeza-leierskapkamp, wat die Swartland-munisipaliteit in Ganzekraal aanbied, vergroot.

Die leerders is Rosie Neethling, Hugo Bruwer en Rita-Mari Lourens van die Hoërskool Swartland; Llewellyn Koopman van Wesbank Sekondêr, Adrienne Samuels van Schoonspruit Sekondêr, AE Groenewald, Joh Bester en Armand Meintjes van die Hoërskool Dirkie Uys en Condré Daniels en Haley Hantam van New Moorreesburg High in Moorreesburg.
Die Swartlandse burgemeester, Harold Cleophas, het die leerders Dinsdag 1 Julie gedurende ‘n afslui- tingsgeselligheid herinner dat die geleentheid ‘n groot voorreg is wat nie almal beskore is nie. Hy het die leerders se ouers en familielede bedank vir hul bydraes om hul kinders die geleentheid te gee.
“Die Duitsers is baie op dissipline ingestel. Daarom vra ek dat julle jul ouers nie teleurstel nie. Voldoen aan dissipline en spanwerk en moenie jou bagasie oorlaai met inkopies nie,” het hy skertsend bygevoeg.
“Julle gaan as ambassadeurs van Suid-Afrika, die munisipaliteit en jul skole na Duitsland. Julle moet ons gaan verteenwoordig en die Duitsers gaan vertel hoe lekker dit is om in Suid-Afrika te woon,” het hy die leerders met ‘n glimlag aangemoedig.
Volgens Cleophas gaan die leerders se gedrag en samewerking bepaal of so ‘n geleentheid weer sal kom. “Gee jul samewerking, maak vriende en geniet dit. Maak gebruik van die geleentheid en waardeer wat julle ouers ingesit het om vir julle die geleentheid te gee,” het hy afgesluit.





You must be logged in to post a comment.