Die Vroue SA o.18 raakrugbyspan in Limerick, Ierland

Megan Abrahams (15), ‘n leerder van Hoërskool Swartland in Malmesbury het haar debuut gemaak as Springbok-raakrugbyspeler op internasionale vlak.

Sy het vanaf 1 tot 3 Augustus as deel van die SA o.18 – raakrugbyspan Suid-Afrika in Limerick, Ierland verteenwoordig waar hulle aan die Atlantic Youth Touch Cup-toernooi deelgeneem het. Suid-Afrika het uitstekend gevaar en ‘n bronsmedalje verower.

Haar liefde vir dié sport kom van ‘n baie jong ouderdom toe sy haar ouer broer langs die rugbyveld ondersteun het. Haar ma, Lee-Ann vertel hoe Megan na ‘n laerskool wou gaan waar sy ook kon rugby speel en haar droom het waar geword. “Sy het ná die Junievakansie in Graad 6 vir die eerste keer saam met die seuns by Laerskool Swartland rugby gespeel,” voeg sy by.

Haar ouers het besluit om haar by die Up and Under: LRA in te skryf toe sy in Graad 8 is, sodat sy haar passie vir die sport verder kon beoefen. ‘n Vriendin wat sy by die klub ontmoet het, het Megan op haar beurt aangemoedig om ‘n raakrugbyoefening by die Wes-Kaap se Raakrugby-vereniging by te woon. Haar vernuf op die rugbyveld is sedertdien raakgesien.

So veel so dat sy op Vrouedag verlede jaar op die ouderdom van 14 jaar amptelik gekies is vir die Wes-Kaap o.17-span wat September verlede jaar aan die Junior inter-provinsiale raakrugbytoernooi deelgeneem het en boonop goud gewen het. Sy het provinsiale kleure verwerf. Megan het kort daarna ook besluit om aan die Sewes-rugbyproewe deel te neem wat vir haar ‘n plek in die o.15 WP-sewesspan en later die Wes-Kaapse o.15-sewesspan besorg het.

Die span het goud in die DCAS-toernooi in Desember gewen. Sy speel skrumskakel wanneer sy haar sewesspan verteenwoordig, asook wanneer sy in die 15-spelerkode uitdraf.

Megan het in Desember verlede jaar gehoor sy word as ‘n skakel in die nasionale Junior Raakrugbyspan vir 2025 opgeneem, terwyl sy vroeër vanjaar vir WCTA se Vroue Opespan in die seniorliga in Pretoria uitgedraf het. Die span het ook ‘n brons medalje gewen.

Die Atlantic Youth Touch Cup-toernooi wat sy as ‘n groot leerervaring beskryf het, was haar eerste internasionale toernooi. “Sy het geleer om nooit op te gee nie,” voeg haar ma trots by. “Megan was baie aangedaan toe sy ons bedank vir die geleentheid wat ons haar gegee het. Dit was ‘n belewenis vir haar.”

Haar span was in ‘n stadium 1-4 agter teen Wallis toe hulle vir die bronsmedalje meegeding het. Hulle het uiteindelik die wedstryd met 7-6 gewen. Megan, wat graag eendag professionele rugby wil speel, droom daarvan om vir die 15-tal vrouerugbyspan uit te draf, hoewel sy sal voortgaan om raakrugby te speel.

Megan Abrahams (15) spog met haar brons medalje.
Megan Abrahams (15) in die middel in aksie op die rugbyveld.
Megan Abrahams (15) in die middel in aksie op die rugbyveld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article