Onthul nou op kykNET.
‘n Nuwe aflewering van die gewilde reeks Onthul ondersoek hoe charismatiese bedriëers jaarliks miljarde rande van Suid-Afrikaners steel.

‘n Nuwe aflewering van die gewilde reeks Onthul ondersoek hoe charismatiese bedriëers jaarliks miljarde rande van Suid-Afrikaners steel.

Meer as R3 miljard het in 2023 alleen deur die vingers van Suid-Afrikaanse slagoffers geglip – die gevolg van gesofistikeerde slenters wat van geloof tot kunsmatige intelligensie gebruik om onskulidge mense te bedrieg.

Dit blyk uit die jongste aflewering van kykNET se dokumentêre reeks Onthul, getiteld “Bedrieg – toe verloor ek al my geld”, wat Sondag 17 Augustus om 20:00 op DStv-kanaal 144 uitgesaai word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (SABRIC) het bedrog skerp toegeneem, met kuber- en KI-slenters asook bankkaartbedrog wat astronomiese verliese veroorsaak.

Ponzi-skemas floreer in Suid-Afrika

Die dokumentêr openbaar dat sowat 300 Ponzi- en piramideskemas tans in Suid-Afrika aktief is – ‘n statistiek wat die omvang van die probleem beklemtoon.

Van die mees vernietigende gevalle sluit Deelmax, Louis Liebenberg se diamantskema, en Kleuterzone in, wat gesamentlik duisende Suid-Afrikaanse families finansieel vernietig het.

Die program kyk ook terug na historiese gevalle soos Adriaan Nieuwoudt se Kubus-skema uit Garies – bekend as die “vrotmelkkultuur” – wat moontlik die grondslag vir sulke bedrog op plaaslike bodem gelê het.

Tigon, beskryf as die “Steinhoff van die 2000’s”, dien as nog ‘n voorbeeld van hoe beleggingsmaatskappye wat op die aandelebeurs genoteer is, gebruik kan word om beleggers te mislei. Die hofsaak teen Gary Porritt en PSC Guaranteed Growth se Jack Milne is steeds aan die gang.

LEES OOK HIÉR: Jooste mansion up for grabs with a price tag of more than R100 million

Geloof as wapen

Een van die mees skokkende aspekte wat die dokumentêr uitlig, is hoe swendelaars geloof misbruik om hul slagoffers te manipuleer.

Marietjie Prinsloo, bekend vir haar helikopter en die Krion-skema, het die Onse Vader met sand op ‘n spieël in haar kantore uitgespel as deel van haar bedrieglike taktieke. Sy het beweer haar skema was R12 miljoen werd, terwyl dit inderwaarheid R320 miljoen beloop het.

Louis Liebenberg, tans ‘n “gas van die staat” sonder enige hoop op borgtog, het sowat 44 000 beleggers met sy “diamantskema” bedrieg. Anthonie Bougas se roete van sanger na swendelaar met Kleuterzone – waar hy na bewering R10 miljoen uitgedobbel het – toon hoe kreatief hierdie kriminele kan wees.

Kunsmatige intelligensie vergroot die gevaar

Die dokumentêr waarsku teen die toenemende gebruik van kunsmatige intelligensie in bedrog. Deep fake-video’s waarin bekende persone soos Elon Musk, Johann Rupert, Kallie Kriel en Steve Hofmeyr se identiteite onregmatig gebruik word, word gebruik om mense na platforms soos Banxso te lok.

“Number spoofing” – waar dit voorkom asof ‘n oproep van jou bank kom terwyl dit van ‘n geheel ander nommer is – het reeds tot nagenoeg R1,1 miljard se verliese gelei. Een slagoffer het meer as R220 000 verloor juis omdat sy geglo het die oproep kom van haar bank.

Kripto-bedrog en die soektog na vinnige rykdom

Die beloftes van 50% wins in ‘n maand deur kripto-beleggings word as “bloot onwaar” ontmasker. Johann Steynberg van Mirror Trading International het met sowat $1,7 miljard verdwyn nadat hy beloftes gemaak het van ‘n algoritme wat nie bestaan nie.

Persoonlike tragedies

Rika Cornelius van Kempton Park vertel hoe sy sowat R800 000 verloor het aan Cobus Geldenhuis se Classic Financial Services – geld wat sy wou gebruik om haar kinders te laat studeer. Geldenhuis het minstens R670 miljoen namens sowat 1 000 kliënte ingevorder.

“Ons het almal in die steek gelaat – net omdat ons ‘n bietjie meer wou gehad het,” sê Cornelius, wat ook slagoffer van Liebenberg se diamantbedrog was.

Kenners bied raad

Die dokumentêr sluit waardevolle raad van kenners in oor hoe mense hulself teen swendelaars kan beskerm. Deelnemers sluit in Ryk van Niekerk van Moneyweb, prof. Jannie Rossouw, Rob Rose van Currency News, en verskeie amptenare van die FSCA, SARS en Nasionale Vervolgingsgesag.

Die goue reël bly: as iets te goed klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik nie waar nie.

“Onthul: Bedrieg – toe verloor ek al my geld” word Sondag 17 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

LEES OOK HIÉR: Reis saam met Govan

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article