Strenger kontrole keer dat minder die grensposte onwettig oorsteek oor Paasnaweek

Michael Masiapato
Grensbestuurowerheid-kommissaris Michael Masiapato.

Beter grensbeheer oor die afgelope Paasnaweek het tot ‘n 24% afname in die onwettige oorsteek van landsgrense gelei. Dit volgens ‘n verslag van die Grensbestuurowerheid.

Die verslag is volgens ‘n verklaring van die Suid-Afrikaanse Regeringsnuusagentskap (SAnews), Sondag (12 April) tydens ‘n media-inligtingsessie in Pretoria deur die Grensbestuurowerheid se kommissaris, Michael Masiapato, aangebied.

Volgens Masiapato is 4 763 reisigers wat probeer het om die land onwettig binne te kom of te verlaat, se planne in die wiele gery. Dit is 1 490 minder as wat oor die 2025 Paastydperk (6 253) aangeteken is.

Onder diegene wat die grens onwettig probeer oorsteek het, was 3 170 ongedokumenteerde persone, 998 wat as “ongewens” geklassifiseer is, en 595 wat weggewys is op grond van vervalste visums en ongeldige reisdokumente.

Masiapato het die afname toegeskryf aan versterkte toepassingstrategieë, insluitend die ontplooiing van hommeltuie, vernietiging van onwettige oorsteek-infrastruktuur, en verhoogde patrollies langs sleutelroetes soos die Limpopo- en Caledonriviere.

Daarbenewens het die Grensbestuurowerheid ook ‘n toename in arrestasies van fasiliteerders wat onwettige migrasie aanhelp, aangeteken, met 138 individue wat in hegtenis geneem is, ‘n 22% styging teenoor die vorige jaar. Hierdie verdagtes is oorhandig aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dienooreenkomstig aangekla.

Alle reisigers wat sonder dokumente onderskep is, se vingerafdrukke is geneem, is vir vyf jaar ongewens verklaar om die grens te oorsteek en na hul onderskeie lande gedeporteer in ooreenstemming met die Immigrasiewet,” het Masiapato gesê.

Soos in die vorige tydperke, was die meerderheid reisigers wat by grensposte voorgekeer is, Basotho-burgers, gevolg deur Mosambiekers, Zimbabweërs, Swati-burgers (Eswatini; voorheen Swaziland), Malawiërs en Ethiopiërs.

Tydens die operasie het owerhede 42 gesamentlike wetstoepassingsoperasies uitgevoer. Dit het padblokkades, meer as 3 000 voetpatrollies en patrollies oor 159 brandpuntgebiede, ingesluit.

Oor dieselfde tydperk het grenswagte vier voertuie onderskep wat uit die land uitgesmokkel word, terwyl dwelms, insluitend 557 kg dagga en 48 kg narkotika, by invoerhawens soos Jeppes Reef-grenspos en OR Tambo Internasionale Lughawe in beslag geneem is.

Masiapato het gesê die resultate demonstreer die doeltreffendheid van geïntegreerde grensbestuurpogings en die gebruik van tegnologie om operasionele vermoë te verbeter.

“Die suksesvolle uitvoering van die Paas-operasies staan as duidelike bewys van ontwikkelende, geïntegreerde grensbestuur vermoë, een wat responsief, gekoördineerd en ferm verbind is om die land se soewereiniteit te beskerm.

“Die Grensbestuurowerheid se prestasie weerspieël nie net operasionele uitnemendheid op die grond nie, maar ook die vasbeslotenheid van ‘n bekwame instelling wat voortgaan om te ontwikkel, aan te pas en tasbare resultate vir die mense van Suid-Afrika te lewer,” het hy afgesluit.

  • Volgens die Grensbestuurowerheid se amptelike webtuiste het Suid-Afrika 71 aangewese grensposte, wat 51 landgrense, 11 internasionale lughawens en 9 seehawens insluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article