Daar is geen uitsluitsel of daar enige ernstige wanpraktyk of wanadministrasie was met die goedkeuring van verskeie eiendomstransaksies deur die Stellenbosch-munisipaliteit nie.
Dit was die bevestiging van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, se kantoor vandeesweek.
Bredell het ‘n voorlopige assessering gedoen ná bewerings dat die munisipaliteit nie voldoen aan die wetlike vereistes wat die verhuur en verkoop van munisipale eiendom reguleer nie.
“Na aanleiding van die voorlopige bevindings gebaseer op die assessering, het die minister die saak na die Provinsiale Tesourie verwys om die munisipaliteit se huidige benadering en beleide ten opsigte van die verhuur en vervreemding van eiendomme verder te assesseer,” het Wouter Kriel, Bredell se woordvoerder, verduidelik.
LEES OOK: Twaalf in huurgeskil weens Stellenbosch-munisipaliteit se beleid

Volgens Kriel is die saak ook verwys na die regsdienste-eenheid in die departement van die premier vir ‘n regsmening oor die regs- en finansiële implikasies vir die verhuurder en, waar van toepassing, die huurder.
Eikestadnuus het voorheen berig oor die nasionale tesourie wat die Stellenbosch-munisipaliteit ingelig het verskeie huurooreenkomste voldoen nie aan die nodige beleid nie.
In Maart het die munisipale raad besluit om die status van die in-beginsel-goedkeuring van huurooreenkomste te oorweeg, omdat die nodige mededingende prosesse nie gevolg is nie.
Onder die huurders is die Stellenbosch-vliegveld, die Nuwe Apostoliese kerk in La Motte en die Animal Welfare Society Stellenbosch (AWSS).
Intussen het Good gevra dat ‘n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur word oor die bewering van onreëlmatige transaksies.
Volgens Kriel wag Bredell nog vir die uitkoms van die Provinsiale Tesourie se assessering en die regsdienste se hersiening. “Slegs by ontvangs hiervan, en indien ernstige wanpraktyk of wanadministrasie geïdentifiseer word, sal die saak aan ‘n volledige ondersoek onderwerp word,” het hy gesê.




You must be logged in to post a comment.