“Ongelooflike inskrywings” was deel van die rekordgetal van 1 101 liedjies wat vir die FAK-Skryf’it-liedjiekompetisie ontvang is, en vanaf Maandag 13 Julie wanneer die stemlyne oopmaak kan lede van die publiek vir hul gunstelingliedjies begin stem.
Hierdie eerste fase van die stemproses gaan oor vyf weke strek waartydens weekliks vir ‘n ander ghoeroe – Andriëtte Norman, William Wolf, Danie Reënwolf (Spoegwolf), John-Henry Opperman (van Klopjag-faam) en Ampie – se gekose liedjies gestem kan word.
Die groot beoordeling van die 1 101 inskrywings het vanaf 1 tot 27 Junie plaasgevind. Hiertydens het ’n paneel van Afrikaanse kunstenaars en liedjieskrywers, insluitend Steve Hofmeyr, Pieter Smith, Logan Pietersen, Jannie du Toit, Monica Maree, Stefan Jansen, Machiel Roets, Gian Groen en Bibi du Preez, asook Jakkals Vibes en Blixim Straat, deur al die liedjies gewerk en punte vir verskeie aspekte gegee.
Aspekte wat beoordeel is, sluit in lirieke, tematiek, melodie, refrein, radiovriendelikheid, musikale styl, genre en die algehele potensiaal van die liedjie in die musiekbedryf.





Ná al die punte bymekaar getel is, het 80 topliedjies na die volgende ronde deurgedring. Dié 80 liedjies bestaan uit 40 oorspronklike komposisies en 40 liedjies waarin kunsmatige intelligensie (KI) as musikale verwerkingshulpmiddel gebruik is.
Hierna is die 10 topliedjies in elke kategorie tussen die vyf ghoeroes verdeel, wat elkeen twee liedjies ontvang het. Die res is in ‘n gesamentlike liedjiepot geplaas.
Elke ghoeroe het dus vier liedjies ontvang – twee oorspronklike liedjies en twee met KI-musikale verwerkings. Die ghoeroes, wat as mentors optree, kan liedjies uitruil indien ander in die pot beter by hul kreatiewe styl aanklank vind.
Help volgende groot Afrikaanse treffers vorm
Barry Müller, FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, sê dit is een van die opwindendste dele van die kompetisie. “Nou begin die volgende hoofstuk waar ervare kunstenaars hierdie liedjies verfyn en moontlik die volgende groot Afrikaanse treffers help vorm.”
Vir deelnemers is dit ’n tyd van afwagting en hulle word aangeraai om hul selfone byderhand te hou.
“Jy weet nooit wanneer die oproep kom nie,” sê Müller. “Vir sommige deelnemers kan die volgende oproep die begin van ’n lewensveranderende reis wees. ’n Ghoeroe kan enige tyd besluit dat jou liedjie die een is waarmee hy of sy wil werk.”
Müller sê die kompetisie is veel meer as net ’n soektog na die volgende treffer.
“FAK-Skryf’it gaan oor die bewaring en ontwikkeling van die Afrikaanse liedkuns. Ons gee aan nuwe skrywers ‘n geleentheid om die musiekbedryf te betree, en skep ook ’n platform waar nuwe stemme vanuit ons gemeenskap gehoor kan word en bou terselfdertyd aan die toekoms van Afrikaanse musiek.”
Hy sê deel van die inskrywings is liedjies wat die potensiaal het om nog jare lank deel van die Afrikaanse musieklandskap te wees.
Publiek kan só stem
Vanaf Maandag vind die stemproses deur die publiek soos volg plaas:
Op Maandag 13 Julie open die stemlyne vir die vier liedjies wat deur Andriëtte Norman gekies is. Die week daarna, op 20 Julie volg William Wolf se vier liedjies, waarna die publiek vanaf 27 Julie vir Danie Reënwolf se liedjies kan stem. Op 3 Augustus open die stemlyne vir John-Henry Opperman se liedjies, en op 10 Augustus kry die publiek die geleentheid om vir Ampie se vier gekose liedjies te stem.
Vir elkeen van die vyf stemgeleenthede maak die stembusse die Maandag om 08:00 oop en sluit die Donderdagaand om 00:00. Dit gee die publiek vier dae om te stem en drie dae vir die organiseerders om die stemme te tel en daardie week se wenners bekend te maak.
Hou ook die kompetisie se sosialemediaplatforms dop waar meer inligting oor die deelnemers, hul stories en die liedjies bekend gemaak word.
Elkeen wat wil stem, kan elke week een keer aanlyn stem en een keer per SMS, deur die liedjie se kode na 45730 te SMS.
Belangstellendes kan hul stemme aanlyn uitbring deur die kompetisie se amptelike webwerf, skryfit.co.za, te besoek.
LEES OOK: Skryf in vir die FAK-liedjieskryfkompetisie | R100 000 pryse op die spel







You must be logged in to post a comment.