Die FAK bring hulde aan “Onse Mimi".
Die FAK bring hulde aan Suid-Afrika se geliefde “Onse Mimi”.

FAK bring hulde aan “Onse Mimi”


Met die afsterwe van Mimi Coertse neem die Afrikaanse kultuurwêreld afskeid van een van sy grootste stemme. Oor dekades heen het “Onse Mimi” sinoniem geword met uitnemendheid, dissipline en ’n onwrikbare trou aan die Afrikaanse lied.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, was Coertse nie net ’n wêreldbekende sopraan nie, maar ’n waardige draer van kultuur wat haar taal en haar mense met trots op die internasionale verhoog verteenwoordig het.

“Sy was ’n kulturele ambassadeur wat Afrikaans na die wêreldverhoog geneem het. Met haar uitsonderlike talent en toewyding het sy gehore reg oor Europa en Suid-Afrika betower en bewys dat Afrikaans ’n taal is wat in die hoogste kunsvorme leef.

“Soos Coenie de Villiers dit tydens haar 90ste verjaarsdagviering by die Voortrekkermonument gestel het: ‘Mimi Coertse het my geleer hoe mooi Afrikaans kan wees.’ Hierdie sentiment weerklink wyd – onder kunstenaars, gehore en die breër Afrikaanse gemeenskap,” sê Langner.

Die verbintenis tussen die FAK en Coertse strek oor etlike dekades. In 1950 ontvang sy as jong kunstenaar die FAK se musiekbeurs – ’n geleentheid wat die grondslag gelê het vir ’n merkwaardige internasionale loopbaan. Haar pad sou haar lei na die groot operahuise van Europa, veral die Weense Staatsopera, waar sy wye aansien verwerf het. Hierdie verbintenis met die FAK sou oor ’n leeftyd voortduur.

Mimi Coertse en ds DPM Beukes
Mimi Coertse, een van die eerste musiekbeurswenners van die FAK in 1956, ontvang ’n geskenk van die destydse voorsitter, ds. D.P.M. Beukes, ná ’n konsert wat sy in Bloemfontein vir die FAK aangebied het. ARGIEFFOTO

Ten spyte van haar wêreldroem het Coertse nooit haar verbintenis met Afrikaans versaak nie. Sy het die Afrikaanse kunslied met dieselfde erns en tegniese verfyning benader as die groot Europese repertoire en daarmee gewys dat taal en kultuur nie beperkings is nie, maar die beginpunt van identiteit en roeping.

Met die FAK se vyftigste bestaansjaar in 1979 neem sy die album Mimi Coertse en die Afrikaanse lied op – ’n blywende getuienis van haar liefde vir Afrikaanse musiek en haar vaste oortuiging dat die Afrikaanse lied ’n volwaardige plek in die kunswêreld verdien.

In 1996 vereer die FAK haar met ’n Prestige-toekenning vir haar buitengewone bydrae tot Afrikaanse musiek – ’n gepaste erkenning vir iemand wat oor dekades heen standaarde gestel het waarby min kon kers vashou. Met haar 80ste verjaardag is sy weer deur die FAK

gehuldig, nie bloot met ’n seremonie nie, maar met opregte dankbaarheid vir haar lewenslange bydrae.

“Mimi Coertse was nie bloot ’n uitvoerder van musiek nie,” sê Sallas de Jager, die FAK se hoof van kuns, taal en musiek. “Sy was ’n draer van betekenis – ’n bewys dat taal, kuns en identiteit onlosmaaklik verweef is. In haar stem het Afrikaans nie net geklink nie; dit het gestyg en gevlieg, en sy regmatige plek tussen die wêreld se groot tale ingeneem.

Mimi Coertse 90ste verjaarsdag.
Mimi Coertse en Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, tydens haar 90ste verjaarsdag in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument in 2022. FOTO: FC Pelser

“Sy het ook ’n belangrike rol gespeel in die bevordering van Afrikaanse musiek deur haar betrokkenheid by die FAK-Sangbundelprojek, waar sy gehelp het om ’n kosbare skat van liedere vir toekomstige geslagte te bewaar,” sê De Jager.

“Die FAK het die voorreg gehad om saam met haar twee besondere mylpale by die Voortrekkermonument te vier. Met haar 80ste verjaarsdag is hulde gebring aan ’n vrou wat lank reeds internasionale roem verwerf het,” vertel Langner.

Met haar 90ste verjaarsdag het die Afrikaanse kunste weer saamgekom om haar nalatenskap te vier. By dié geleentheid het Jana Cilliers haar beskryf as iemand wie se impak byna onbeskryflik is en haar tereg as “volksbesit” bestempel – ’n ikoon wat aan almal behoort.

“Coertse het met haar stem ontroer en met haar lewe geïnspireer. Sy het bewys dat uitnemendheid en nederigheid hand aan hand kan gaan; dat internasionale aansien en liefde vir jou moedertaal mekaar nie uitsluit nie. Sy het vir geslagte kunstenaars gewys dat mens die wêreld kan verower sonder om jou wortels prys te gee,” sê Langner.

“Haar lewe herinner ons daaraan dat ware grootheid nie net gemeet word aan applous alleen nie. Sy het Afrikaans veredel en dit opgelig tot ’n draer van skoonheid, waardigheid en hoop.

“Die FAK groet haar met diepe dankbaarheid. Ons eer nie net haar loopbaan nie, maar ook haar voorbeeld. Haar nalatenskap leef voort – in opnames en herinneringe, maar veral in die standaarde wat sy gestel het en die respek waarmee sy die Afrikaanse lied benader het.”

LEES OOK: Legendary South African soprano Mimi Coertse dies at 93

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article