eMALAHLENI – Skok en ongeloof heers ná die skietdood van ‘n plaaslike entrepreneur en digitale inhoudskepper, Ricardo Spies (27).
Spies, van eMalahleni (voorheen Witbank), is Saterdagmiddag (20 Junie) gewond in ‘n skietery buite ‘n gewilde kuierplek in Langasingel, Corridor Hill.
Een persoon (42) is na bewering in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal na verwagting môre (Maandag 22 Junie) in die plaaslike landdroshof verskyn, luidens nuusberigte.
Volgens voorlopige inligting het ‘n woordewisseling glo buite die kuierplek ontstaan toe die vermeende verdagte na bewering in Spies se broer se motor vasgery het.
Die verdagte het glo tydens die onderonsie drie skote afgevuur. Spies is gewond en in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal gejaag, waar hy later weens die aard van sy beserings gesterf het.
Spies beskryf homself op sy openbare Facebook-blad as ‘n entrepreneur, belegger en inhoudskepper wat mans help om spiere, geld, dissipline en ingesteldheid te bemeester.
Sy Instagram-profiel, met min of meer dieselfde beskrywing, het byna 11 000 volgelinge.
Sedert nuus van sy afsterwe het boodskappe van medelye van oral op sosiale media ingestroom.
Vriende en kennisse het hom beskryf as iemand met ‘n liefde vir die lewe wat sy drome met visie en passie uitgeleef het.
NovaNews het verdere navrae aan die Mpumalanga-polisie gerig. Hul kommentaar sal bygewerk word sodat dit ontvang word.






