Brenden Ruiter
Brenden Ruiter

Matriekafskeidseisoen is met ons en as jy ‘n ouer is van ‘n matrikulant moet jy hare op jou tande het. Of die vermoë hê om ‘m plan te kan maak om geld in die hande te kry, want dis net geld, geld, geld en geld, watter kant toe jy jou ook al draai.

Die klere kos geld, die fotograaf kos geld en daar moet vir “snacks” ook betaal word.

Ek hoor die ander dag by my vrou ons moet ‘n tent en stoele huur; die vrou van die “backdrop” en tafelversierings is “uitgesort”.

Shein en Temu het nie “lilac”-pakke en Mr Suite Hire se materiaal is nie die regte een nie. Ons sal by ‘n plek moet uitkom waar hulle pakke sny.

‘n Ordentlike mannetjie van Asiese herkoms stap ons tegemoet. Ek, wat altyd vir ‘n mening gevra word waarna nooit geluister word nie, besluit om so ‘n tree agter my vrou en laaitie te hou. Toe hulle met die ordentlike mannetjie begin praat, plons ek neer in ‘n gemaklike rusbank en luister na die gesprek.

My vrou haal ‘n stukkie “lilac”-lappie uit haar handsak. “Do you have this colour material?” vra sy.

“Of cause we have madam,” antwoord hy.

“And how long will it take for the suite to be finished if we decide on you as the tailor?” vra my vrou. “About 13 to 14 days, madam,” antwoord hy.

Ek hou die hele petalje dop, want soos ek nou al deur hierdie hele proses geleer het, die “punchline” lê gewoonlik in die prys.

“Ok thank you. And what will it cost to make the suite for my son?” vra my vrou.

“For you, only R5500,” sê die ordentlike mannetjie.

Ek wens ek het op daardie oomblik regop gestaan dat ek myself in die lang spieël oorkant my kon sien, want ek is seker ek het ‘n “lilac”-skynsel gehad.

In hierdie stadium is die seun nog pakloos, maar ons glo ons sal dit darem voor Oktober kry.

Maar hierdie hele petalje het my aan die dink gesit oor die gekheid van matriekafskeide. Of eerder die druk waaronder ouers en veral leerders is om ‘n “statement” te maak by die geselligheid. Jaarliks word ons hier by die koerant oorval met mense wat uitsonderlike goed doen om aandag te trek by die matriekbal. Matrikulante word afgelaai met helikopters en stootskrapers en met afleweringsvoertuie. Die klere lyk asof dit nie onwelkom sal wees op die loopplanke van Parys en Milaan nie.

Nou wil ek vra of die skoolpunte ook so blink? Gee ouers dieselfde hoeveelheid aandag aan die leerders se skoolwerk as wat hulle rondskarrel om seker te maak Aspoestertjie skitter by die bal?

In Suid-Afrika is die realiteit dat werk so skaars is dat sou jy ook matriek verwerf, die kans skraal is dat jy ordentlike werk gaan kry. Ek wil nie die glans van jongmense se gesellighede verdof nie, maar die gebed van my hart is dat ouers wat nou rondhardloop om hul kinders op te tof, ook agter hulle sal staan wanneer die eindeksamen kom. Dra eetgoedjies aan en moedig aan, maar wees ook soms die “bad cop”-ouer wat sê jy kan nog meer doen.

Dit sal vir my bitter hartseer wees as my seun met matriekafskeid-foto’s in ‘n “lilac”-pak spog, maar hy het nie toelating om verder te gaan studeer nie. Dit sal nie ‘n goeie refleksie op my as ouer wees nie, want al wil ek hê hy moet “shine” by sy matriekbal, moet hy daarna in die lewe ook uitblink.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025