Bellville se eie 14-jarige sportster, Renier Janse van Rensburg, het amptelik sy plek in die geskiedenisboeke verseker nadat Guinness World Records bevestig het dat hy die jongste krieketskeidsregter ter wêreld is.
Met die berig “Valkoog op krieketveld” in TygerBurger op 22 Januarie was die Guinness Word Records maar nog net op Renier se doenlys.
Maar nie meer nie. In ‘n opvolgonderhoud het Renier sy opgewondenheid oor die jongste prestasie gedeel: “Ek het eers gedink my ma maak ‘n grap – ons het nie so gou terugvoer verwag nie. Maar toe ek besef sy is ernstig, was ek só opgewonde. Dis die grootste eer om my land in die wêreldrekordboeke in te skryf,” sê hy opgewonde.
Renier, wat op die ouderdom van net 14 jaar reeds as skeidsregter optree én steeds ‘n aktiewe speler is, sê sy liefde vir krieket is die dryfveer agter alles wat hy doen.
Passie vir krieket
“Om skeidsregter te wees, verbreed my kennis van die reëls en die spel. En om my passie vir krieket verder en meer uit te leef, is so lekker,” vertel hy.
Sy ma, Ciska Keyser, het geweet haar seun het iets besonders toe hy, sonder vrees of huiwering, sy eerste wedstryd as skeidsregter op 7 Januarie hanteer het.
“Renier is baie selfversekerd, en as hy eers op iets besluit het, druk hy deur. Tydens sy eerste wedstryd het hy met selfvertroue sy arms geswaai, mense uitgegee en sy man gestaan. Toe weet ek definitief – hy’s gemaak vir hierdie pad,” sê sy.
Die amptelike bevestiging van Guinness World Records het op Vrydag 23 Mei via e-pos gekom. Daarna moes die familie wag vir die sertifikaat, wat hulle op Vrydag 13 Junie in Epping by die poskantoor gaan afhaal het.
Renier se rekord beteken hy is meer as ‘n jaar jonger as die vorige rekordhouer, die Australiese James Rodgers, wat op 15 jaar en 99 dae as die jongste krieketskeidsregter in 2011 aangewys is.
Met sy naam nou wêreldwyd erken, is Renier vasbeslote om aan te hou groei in die sport en hoop om binnekort op die veld saam met sy skool se eerstespan te staan.

You must be logged in to post a comment.