Jannie Malherbe (84) Foto: Verskaf/Bergrivier-kanomarathon

Selfs ‘n besering wat hy sowat ‘n week gelede aan sy ribbekas opgedoen het sal nie vir die 84-jarige Jannie Malherbe keer om vanjaar sy 52ste agtereenvolgende Bergrivier-kanomarathon te voltooi nie.

Malherbe is tans die oudste deelnemer aan die marathon wat vanjaar vir die 63ste keer tussen 2 en 5 Julie plaasvind.

Die kanomarathon skop af in die Paarl en eindig 240 kilometers later in Velddrif aan die Weskus.

“Behalwe vir my ribbekas-besering is my hakskeen ook nou al vir ‘n geruime tyd seer. Ek het juis my ribbekas beseer as gevolg van hierdie hakskeen wat my laat val het. Maar ek loop feitlik nie meer mank nie en ek is seker dat my ribbekas teen volgende week herstel sal wees. Ek sal deur niks afgeskrik word nie,” het ‘n vrolike Malherbe vandeesweek gesê.

Toe hy gevra is waar iemand op 84-jarige ouderdom nog energie kry vir so ‘n uitdagende aktiwiteit, het Malherbe eenvoudig gesê: “ek is redelik hardekop”.

“Ek is nie iemand wat kan stil sit nie. Die verwagting is mos dat iemand van my ouderdom op die stoep moet sit en kyk hoe die son gaan sak. Nie ek nie. My oggende begin reeds teen 06:30 en ek probeer myself heeldag met iets besig hou.

“Ek begin jaarliks reeds vroeg in Januarie tot aan die einde van Junie vir hierdie ding te oefen.

“Dan is daar ook die hengel waarmee ek myself gereeld besig hou. Ek stap gereeld langs die see daar naby Buffelsbaai. So ek hou myself besig, ek sit nie stil nie. Ek was my hele lewe lank al aktief,” het hy vertel.

Wat die Bergrivier-kanomarathon anders maak as ander marathons, is dat dit nie net op een dag plaasvind nie. Omdat dit oor ‘n paar dae plaasvind, “vat dit geweldig baie uit jou uit”, sê hy.

Hy sê selfs al word daar koue en nat toestande vir volgende week voorspel sal dit na sy opinie bydra tot die avontuurlustigheid waarvoor die marathon gekenmerk word.

Malherbe het verhaal hoe hy en talle ander deelnemers verlede jaar maagvirusse opgedoen het, vermoedelik weens die besoedelde water van die Bergrivier.

“Dit is maar soos enige ander uitdaging wat mens langs die rivier kan teëkom. Selfs dit het my nie gekeer om die marathon verlede jaar klaar te maak nie.”

Die geleentheid word beskryf as die uiterste toets van vaardigheid in kanovaart en verdien sy plek as een van Suid-Afrika se belangrikste roeigeleenthede.

Deelnemers sal vanjaar van die begin tot die einde beproef word.

‘n Volle reeks kanovaartvaardighede en geestelike vasberadenheid sal aangewend moet word om die marathon te voltooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 270499
    Vista E-edition 10 July 2025