Die bekendmaking van Suid-Afrika se 2025-matriekslaagsyfer plaas die debat oor die slaagsyfer in besonder asook ons onderwysstelsel in die breë opnuut onder die vergrootglas. Prof Michael le Cordeur verduidelik waarom ʼn slaagsyfer van 30% vir nog lank net ʼn droom sal bly.

Toe ek in 1976 matriek geskryf het, het ek ʼn presies geweet wat die vereistes is om matriek te slaag sodat ek toelating tot universiteit kon kry: wat op daardie stadium ʼn eerste vir my familie sou wees. Heel eerste moes ek my huistaal met 50% slaag. Ek moes ook ʼn tweede taal (Engels) met 40% en nog drie prioriteitsvakke met 40% deurkom (Vir my was dit Wiskunde, Rekeningkunde en Biologie). Ek kon ook 1 van my 6 vakke (Geskiedenis) slaag met net 33⅓ %.

Vergelyk dit nou met ʼn Baccalaureus Slaag vandag (wat nodig is om universiteit toe te gaan):

Die bekendmaking van Suid-Afrika se 2025-matriekslaagsyfer plaas die debat oor die slaagsyfer in besonder asook ons onderwysstelsel in die breë opnuut onder die vergrootglas. Prof Michael le Cordeur verduidelik waarom ʼn slaagsyfer van 30% vir nog lank net ʼn droom sal bly.

Die vernaamste verskil is dat ons destyds een vak met een derde (33⅓%) kon deurkom teenoor twee vakke wat jy nou met 30% kan slaag. In wese is daar dus min verskil tussen die vereistes vir universiteitstoelating 49 jaar gelede teenoor die vereistes vandag.

ʼn Matriekleerling kan ook matriek slaag met ʼn Diploma, die Hoër of die Nasionale sertifikaat. Alhoewel matrieks vir hierdie kwalifikasies meer as een vak met 30% mag slaag, kan jy nie ALLE vakke met 30% kan slaag nie. Dit is baie meer genuanseerd. Enige kwalifikasie is onderworpe aan ander vereistes soos 40% of 50% vir die huistaal en 40% vir minstens nog 3 of 2 vakke. Let ook op dat dit nie toelating tot universiteit bied nie.

Die debat spruit uit ʼn resolusie voorgestel deur die Bosa-leier, Mmusi Maimane, dat die slaagsyfer tot 50% verhoog word. Hy het aangevoer dat Suid-Afrika hoër verwagtinge moet stel aan sy matrieks as ons ʼn mededingende generasie wil bou. Sekere politieke partye soos die EFF

en MKP het die slaagsyfer van 30% selfs verbind met ʼn teruggryp na “Bantoe-onderwys” en “Apartheidsonderwys”. Die parlement het egter die mosie met ʼn groot meerderheid verwerp.

Die bekendmaking van Suid-Afrika se 2025-matriekslaagsyfer plaas die debat oor die slaagsyfer in besonder asook ons onderwysstelsel in die breë opnuut onder die vergrootglas. Prof Michael le Cordeur verduidelik waarom ʼn slaagsyfer van 30% vir nog lank net ʼn droom sal bly.

Waninligting

Ons moet waak teen die verspreiding van waninligting op sosiale media. Soos in die tabelle hierbo gesien kan word, is dit onwaar dat ʼn leerling al sy vakke met 30% kan slaag en dan steeds matriek agter sy/ haar naam kan skryf. ʼn Slaagsyfer van 30% is ook nie ʼn nuwe gier van die ANC-regering nie. Soos hierbo genoem was dit nog altyd so (en dis wyd aanvaar) dat jy een vak met ʼn laer syfer kon slaag; ons almal het ʼn vak (vir my was dit Geskiedenis) wat jy verpes!

Die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het tydens haar repliek beklemtoon daar is nie ʼn algehele 30%-slaagsyfer in die matriekeksamen nie. Volgens haar het slegs 189 van die 724 000 leerlinge wat verlede jaar matriek geskryf het, met hierdie absolute minimum geslaag.

Die res van die wêreld?

Vir ʼn breër perspektief kan gerus gekyk word na wat elders in die wêreld gebeur. Daar is oor die algemeen drie vlakke. Die eerste is ʼn slaagsyfer van 50% in lande soos Australië, Kanada en talle Europese lande. Dit is ook die grens tussen slaag of druip in Suid-Afrikaanse universiteite.

Die tweede groep handhaaf ʼn slaagsyfer van 40%: dit is lande soos Japan, New Seeland, Ierland, die Verenigde Koningryk en, let wel: Zimbabwe. Die derde groep handhaaf ʼn slaagsyfer van 60% wat insluit lande soos die VSA, China, Nederland en Marokko. Daar is ook die uitskieters soos die Filippynse eilande (72%) en sekere Amerikaanse State (65%). Suid-Afrika se druipsyfer van 29% is dus van die laagstes; laer as Indië se 33% en gelykstaande aan Mianmar se 29%.

Alternatiewe assessering

Tyd staan egter nie stil nie. Almal wat ʼn belang het in die Opvoedkunde, behoort kennis te neem dat die moderne wêreld besig is om weg te beweeg van formele eksamens en toetse. ʼn Land soos Oostenryk het reeds begin om slaagpersentasies en simbole te vervang met meer beskrywende vorme van prestasie soos “baie goed”, “bevredigend” of “baie swak”.

Japan, een van die tegnologies mees gevorderde lande ter wêreld, neem hier die voortou. Leerlinge word nie aan toetse en eksamens onderwerp nie alvorens hulle in die hoërskool is. Die Japannese glo daar is belangriker dinge wat ʼn kind moet leer. Waardes soos 1. vriendelikheid en respek vir ouer mense; 2. leer om as ʼn span saam te werk, sonder om hul onafhanklikheid prys te gee (skole in Japan het nie skoonmakers nie en leerlinge moet self die klaskamers en toilette skoonmaak). 3. Om van kleins af waardering en ʼn liefde vir die omgewing en natuur aan te leer; 4. Leerlinge leer vir kennis en vaardighede; nie vir punte en simbole nie en 5. waardes soos stiptelikheid, hardwerkendheid en toewyding.

Danksy hierdie benadering is dissipline in Japannese skole van die beste ter wêreld.

Druk op die regering

Daar is ʼn goeie rede waarom die ANC en die DA (die vernaamste vennote in die regering van Nasionale Eenheid) vir die mosie gestem het. Eerstens is die afdwing van ʼn slaagsyfer van 50% in elke vak ʼn mooi droom, maar soos ek hier uitgewys het, is dit slegs ontwikkelde lande wat 50% en meer kan handhaaf. Dit plaas baie druk op die regering om ʼn skoolomgewing te skep wat bevorderlik is vir leer. Ruimte om alles te noem ontbreek, en ek lys slegs enkels:

Kan ons werklik van arm leerlinge verwag om 50% in elke vak te behaal as hulle nie handboeke het nie? Slegs 1 uit 4 skole in Suid-Afrika het genoeg boeke. Kan leerlinge werklik hul beste lewer as hulle in klasse sit van so veel as 120 leerlinge? (ek het dit met my eie oë waargeneem toe ek navorsing in die Oos-Kaap gedoen het). Wat van individuele aandag? Met al die geweld wat tans in skole heers waar leerlinge en onderwysers met hul lewens boet, kan leerlinge nie volgens hul ware potensiaal presteer nie omdat die skoolomgewing nie veilig is nie. Oor die regering se gesloer om voldoende skole te bou, is al bladsye vol geskryf met weinige verbetering. Die lys gaan aan.

Net ʼn droom

Om dit alles reg te stel gaan baie geld kos. Geld wat ons nie het nie. Met al sy skuld is Suid-Afrika eenvoudig nie in staat om ʼn omgewing wat bevorderlik is vir leer daar te stel wat ʼn slaagsyfer van 50% moontlik maak nie. Boonop sukkel die regering om sy program vir Graad R wat in gevolge van die BELA-wet nou verpligtend is, van die grond af te kry.

Om op te som: Jy kan nie fout vind met die edele doel van Maimane se voorstel nie. Suid-Afrika het reeds ʼn reputasie as ʼn land met ʼn swak onderwysstelsel. Die teenoorgestelde van

“Apartheidsonderwys” is egter nie dat elke kind elke vak met 50% moet slaag nie. Ook nie dat almal universiteit toe gaan nie. Ja ons benodig dokters en onderwysers, maar ook ambagslui om hospitale en skole te bou. Ons strewe moet wees om elke kind die geleentheid te gee om binne hul vermoë en belangstellings die beste te wees wat hul kan wees.

Ek glo ook dat ʼn slaagsyfer van 30% te laag is om ʼn vak in matriek te slaag. ʼn Slaagsyfer van 40% is meer in lyn met die internasionale standaard. Dit plaas egter die druk vierkantig op die skouers van die regering om te verseker dat die leeromgewing bevorderlik is vir effektiewe leer. Van waar ek staan, het ons land nóg die geld, nóg die politieke wil om dit moontlik te maak.

ʼn Slaagsyfer van 50%, hoe edel dit ook al is, skyn tans slegs ʼn droom te wees.

  • Prof Michael le Cordeur is Emeritus Professor in Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article