Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade. Hoërskool Menlopark het rede tot groot trots. Drie leerders het deelgeneem aan die nasionale wiskunde-olimpiade. Hulle is gekies om aan die finale rondte van die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade deel te neem. Die prestasie beklemtoon die skool se voortgesette uitnemendheid in akademiese vakke en die toewyding van sy jong wiskundiges.
Die finaliste is Erik Senekal (graad 12), Le Roux van Wyk (graad 12) en Hein van Brummelen (graad 8). Hierdie drie Menlo-manne het deur verskeie uitdagende rondtes gekom en pak op 30 Julie die nasionale finale aan, waar die beste wiskunde-leerders uit die hele land gaan meeding.
Die Suid-Afrikaanse Wiskunde-Olimpiade, wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Wiskundevereniging aangebied word, is die grootste en mees gesogte kompetisie van sy soort in die land. Duisende leerders neem deel, maar slegs ’n klein groepie dring deur tot die finale rondte. Die kompetisie toets nie net berekeningsvaardighede nie, maar ook logiese redenasie, probleemoplossing en kreatiewe denke.


Hoërskool Menlopark se wiskunde-afdeling het die drie leerders geloof vir hul harde werk en deursettingsvermoë.
“Ons is uiters trots op Erik, Le Roux en Hein. Hulle verteenwoordig nie net ons skool nie, maar ook die Gautengse streek op nasionale vlak.”







You must be logged in to post a comment.