BETHLEHEM – Provinsiale Spelkampioen. Laerskool Truida Kestell is besonder trots op Simé Scheepers. Sy is ’n graad 3-leerder wat uitstekend presteer het tydens die Departement van Onderwys se Provinsiale Spelkompetisie. Dit is by die Bon Hotel in Bloemfontein aangebied waar sy gekroon is as die Provinsiale Spelkampioen.
Simé het die kompetisie gewen en die eerste plek verower met haar taalvaardighede, deursettingsvermoë en uitstekende voorbereiding. Dié prestasie is die hoogtepunt van harde werk en toewyding. Deelnemers uit verskeie skole regoor die provinsie het aan die kompetisie deelgeneem.
Spelkompetisies speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van leerders se taalvermoë, woordeskat en selfvertroue. Simé se uitsonderlike prestasie dien as inspirasie vir haar mede-Truidjies.
Laerskool Truida Kestell wens haar hartlik geluk met hierdie besonderse prestasie en is trots op die wyse waarop sy die skool se naam hoog gehou het. Haar sukses is ’n bewys dat toegewyde voorbereiding en ’n liefde vir taal groot vrugte kan afwerp.
“Baie geluk, Simé. Die Truidjie-familie vier saam met jou hierdie merkwaardige prestasie.“
Foto voorsien






