Presidentverkenner-toekenning. Hoërskool Langenhoven van Riversdal het met groot trots hul Voortrekkers gelukgewens wat die gesogte Presidentsverkenner-toekenning ontvang het. Hulle is Conrad Rall, Marguerite Dyason en Anandia du Plessis. Hierdie eer is die hoogste onderskeiding wat ’n Verkenner binne Die Voortrekkers kan verwerf en dien as bewys van uitnemendheid, leierskap en karakter.

Die toekenning, wat sedert 1967 bestaan, word aan matriekverkenners toegeken wat aan streng vereistes voldoen. Dit sluit in jare se aktiewe lidmaatskap, die voltooiing van graadwielwerk en opdragte. Hulle neem ook deel aan ’n afrondingskamp waar kandidate se leierskap, kommunikasievaardighede, kultuurkennis en geloofswaardes getoets word. Slegs die mees toegewyde en volhardende jong leiers slaag hierdie uitdagende proses.

“Hierdie prestasie getuig nie net van wat ons Presidentverkenners bereik het nie, maar ook van die waardes en leierskap wat hulle daagliks uitleef,” het die skoolgemeenskap gesê.

Die toekenning ontwikkel jongmense tot gebalanseerde leiers wat ’n positiewe bydrae tot die samelewing kan lewer. Dit beklemtoon geloofswaardes, kultuurbewustheid, diensbaarheid en ’n sterk sin vir verantwoordelikheid.

Hoërskool Langenhoven het sy Presidentverkenners gelukgewens met hierdie welverdiende mylpaal en glo dat dit die begin is van ’n toekoms vol nuwe geleenthede en sukses.

https://langenhovenhs.co.za/

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article