Hoërskool Witteberg het twee nuwe personeellede aangestel. Hulle is Marike Killian en juffrou Denisé Jordaan. Marike Kilian is as Witteberg se nuwe bemarker verwelkom. Sy het ’n BA-graad in Kommunikasie en ’n Honneursgraad in Gevorderde Korporatiewe Kommunikasie. Sy het aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. Marike bring ook ’n ryk agtergrond in bemarking en kommunikasie met haar saam. Haar ervaring strek van oor die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, sowel as die gasvryheids- en toerisme-sektor.
Voor haar aanstelling by Witteberg het sy haar vaardighede in die skryf van mediakopie geslyp. Sy het ook sosiale mediaplatforms bestuur, videoredigering gedoen en die koördinering van uiteenlopende bemarkingsprojekte hanteer. Marike beskou dit as ’n voorreg om haar passie vir bemarking binne ’n skoolomgewing uit te leef. Sy is vasberade om deur kreatiewe en doelgerigte kommunikasie die Witteberg-handelsmerk verder te versterk.
Juffrou Denisé Jordaan is aangestel as Rekeningkunde-onderwyseres vir Gr. 8 tot 12. Sy bring ses jaar onderwyservaring uit Douglas in die Noord-Kaap. Sy het rekeningkunde, ekonomiese- en bestuurswetenskappe (EBW) aan leerders van Graad 7 tot 12 aangebied.
Denisé het ’n aktiewe rol gespeel in projekte van die Noord-Kaapse Onderwysdepartement, waar sy departementele vraestelle opgestel en gemodereer het. Sy is verder deur die departement aangestel om Rekeningkunde-onderwysers op te lei en skole in die distrik te ondersteun met die verbetering van leerderprestasie en deelname in die vak.
Haar lewensleuse lui: “Dit is maklik om die beste te wees in ’n gebied, maar om die beste te wees vir ’n leerder, ’n skool en ’n gemeenskap, is ’n groter eer.” Met dié ingesteldheid sien sy daarna uit om ’n betekenisvolle bydrae tot Hoërskool Witteberg en die Bethlehem-gemeenskap te lewer.





